Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Google tot jou diens. Hoe om hekelpatrone te soek.

'n Hartlike goeie middag almal!

Dit is vanuit 'n bewolkte en koue Somerset Wes wat ek groet vandag. Ek dink die winter is hier en dit beteken net een ding. Tyd om lekker snoesige komberse te hekel wat sommer die bene en lyf warm hou terwyl dit groter en groter groei so op die skoot!

Maar voordat ek drome begin droom oor snoesige hekel aande en toekomstige projekte wil ek vandag bietjie gesels oor die soek van hekel patrone.

Ek ontvang daagliks verskeie versoeke vir hekelpatrone. Wat my veral opgeval het is dat vroue noem dat hulle al oral gesoek het maar kry glad nie 'n patroon vir die of dat nie. Dit het my laat besef dat daar baie vroue in Suid Afrika is wat nie weet hoe om Google te gebruik nie.

Wat doen ek wanneer iemand my vra vir 'n hekelpatroon? Ek gebruik Google en ek soek vir 'n patroon. Ek werk voltyds en tyd is bitter kosbaar wat beteken ek kan nie in die aande na werk tot watter tyd sit en patrone soek vir mense nie. Na-ure tyd word gebruik vir die ontwikkeling van my eie reeks patrone, vir die skryf van tutoriale wat gewoonlik verskeie fotos insluit en dan moet ek ook nog kans kry om te hekel en my ander aktiwiteite inpas. Ek is nie 'n voorstander vir die 'scan' of 'copy' van enige patrone wat dan aangestuur word nie. Dit is nie net onwettig nie maar krap my geweldig om wanneer iemand my vra of ek dit sal doen. Ek sal gaan soek en sal 'n 'link' aanstuur en dit is hoe vêr ek bereid is om te gaan. Dit gaan dus nie help wanneer jy vra of ek vir jou 'n patroon het van dit of dat nie. Ek stuur 'n link en jy kan gaan kyk of jy iets daar kry. 

Dit is in my natuur om mense te help daarom dat ek ook nie omgee om tyd te spandeer om mense te leer hoe om dinge vir hulself te doen nie. Dit is my beskeie poging om mense te 'empower' [sorrie maar ek kan nie nou dink aan  'n beter woord in Afrikaans nie]  Deur mense die gereedskap te gee om hulself te help maak jy die lewe nie net vir jouself nie maar ook vir hulle baie makliker. 

En indien jy een van die is wat my al gekontak het vir patrone of indien jy raad gevra het wil ek groot asseblief vra dat jy nou nie moet sleg voel nie. Daar is letterlik honderde en ek bedoel regtig honderde eposse wat ek al beantwoord het en wat nog daagliks instroom.

My deur is altyd oop en indien jy sukkel met 'n patroon of indien jy raad nodig het met 'n projek. Ek help graag en ek maak tyd daarvoor. Moet asseblief nie huiwer om te vra nie. Al wat ek probeer doen is om sover moontlik onnodige eposse te verminder. Dit sal baie minder frustrasie vir jou en  my bring, want jy sal jouself baie vinniger kan help en hoef nie te wag totdat ek 'n tydjie kry om terug te antwoord nie. Soos reeds genoem my tyd is baie beperk! 

Dus het ek besluit om 'n hele artikel te wy deur vir julle te wys hoe jy  iets op die internet kan soek en dit  te kry sonder sukkel. 

Enige iets! en ek bedoel enige iets kan opgespoor word op die internet. Indien jy na iets soek en dit nie kry nie beteken dit jy soek net verkeerd.

Indien jy geen probleem het om iets op te spoor  nie dan is hierdie artikel  'perdalkies'  nie vir jou nie, maar miskien kan ek jou tog nog so ietsie leer wat jy nie geweet het nie.

'n Verdere punt wat ek wil aanspreek is die 'Kontak My' vorm. Daar is gereeld navrae sonder om enige epos adres te los. Dit het al soveel keer gebeur dat iemand vra vir 'n patroon of vir raad maar hulle laat nie 'n epos adres nie. En dan is daar diegene wat wel 'n adres laat maar dit is verkeerd ingetik en bly terug hop na my toe. Daar is geen manier wat ek jou dan kan opspoor nie. Maak dus asseblief baie seker dat daar nie vinger-foute insluip wanneer jy die 'Kontak My' vorm gebruik nie.

Het jy  'n Blackberry of iphone tot jou beskikking dan stel ek voor jy lees die volgende artikel wat jou alles verduidelik oor hoe Dropbox werk. Dropbox is fantasties want jy kan jou patrone daar gaan bêre en dit is beskikbaar wanneer jy dit nodig het.   Lees ook hier wat Dopbox is.   Ek dink dit werk met enige van die nuwer fone ook en jy kan dit sinkroniseer met omtrent enige foon, rekenaar en tab. 

So kom ons begin! 

Ek gaan begin deur vir julle 'n voorbeeld te gee. Die ander dag gesels ek met 'n dame en sy noem aan my dat sy al oral gesoek het vir 'n sig-sag hekel patroon maar daar is nêrens op die internet 'n patroon wat vir haar wys hoe om dit te hekel nie. Nodeloos om te sê dat ek amper verstik aan my tee toe ek dit hoor. Ek vra toe ewe kalm vir haar; "Het jy dit gegoogle en niks gekry nie?" "Ja, niks nie en ek is al moedeloos gesoek!"  sê sy. "Nou sê gou vir my. Wat het jy ingetik op Google." Sy antwoord toe dat sy allerhande woorde probeer het. Sy het woorde gebruik soos 'riffel patrone' en 'sig-sag patrone' en noem ook 'n hele klompie ander woorde op wat my nou ontgaan. Ek vra toe of sy 'free crochet ripple pattern' of 'ripple crochet tutorial' of 'crochet zig-zag pattern' probeer het. Haar antwoord was nee sy het nie daaraan gedink nie. Ek verduidelik toe aan haar dat wanneer sy op die internet iets soek gaan Google presies vir jou gee wat jy vra. Wanneer jy dus net vra vir 'n 'ripple pattern' of 'n 'riffel patroon'  is dit presies wat jy gaan kry. Google weet nie jy praat van 'n hekel patroon as jy dit nie vir hom intik nie. 

Vir ons "Ou gesoute Googlelaars" mag dit dalk vergesog klink maar glo my daar is nog baie onkundiges wat nog nie die fynere punte geleer het nie. Jy moet eers leer om ook te dink soos Google.

Die swart en wit foto met die riffel patroon sowel as die grys en rooi dotjies sig-sag patroon is wat Google vir jou sal gee indien jy slegs "zigzag pattern" intik, maar tik "crochet zigzag pattern" en die foto links is die tipe informasie wat Google vir jou sal gee.

Dit gebeur ook telke male dat die Kontak My vorm hier ingevul word en dan word daar gevra vir patrone of tutoriale wat ek alreeds in die verlede behandel het.  Kyk aan die regterkant van die blad is daar 'n 'Soek Boks'. Tik in die aangeduide oop spasie in waarna jy soek en dit sal jou deurneem na die patroon of tutoriaal indien dit wel reeds behandel is in 'n vorige artikel.

Dit geld vir enige ander webwerf. Soek na die "Search Box" wat gewoonlik aan die kant of bo aan geplaas is. Dit is die vinnigste manier om binne 'n webblad na iets spesifieks te soek. Indien dit nie op 'n webblad verskyn nie soek dan na 'Labels' of die Argiewe. Dit is nie altyd so doeltreffend soos die soek boks nie maar dit is 'n alternatief om te onthou.

Maar om terug te kom na Google!

Hier is  'n lys met 'n paar tips wat  as riglyne gebruik kan word vir die soek van hekelpatrone in Google.
  • Sleutelwoorde is belangrik! 
  • Gebruik sinonieme vir verskillende woorde. [Ripple, zig-zag, chevron, wave] of [ladies shawl, stole, mantle, scarf, wrap] of [baby beanie, baby hat, baby cap, baby skullcap] Probeer verskillende woorde en moet nie vergeet om vooraan die woorde "crochet pattern" in te tik nie.
  • Sinonieme kan ook soos volg ingetik word deur die volgende teken te gebruik: ~ Tik dus in Google soos volg: ["crochet pattern beanie" ~hat]
  • Google is nie gepla of jy 'n komma of hoofletter gebruik nie. Voorbeeld: [free crochet pattern socks girls] 
  • Wanneer jy na iets spesifieks soek plaas dit binne aanhalingstekens soos volg: "crochet for therapy"
  • Soek jy 'n hekelpatroon wat in PDF formaat is? Soek dan soos volg : [crochet pattern adult beanie filetype : pdf]
  • Soek jy na 'n spesifieke hekelboek plaas die naam van die boek ook in aanhalingstekens of die skrywer se naam indien jy nie die naam van die boek kan onthou nie. 
  • Het jy 'n foto opgespoor maar weet nie waar om die patroon te kry nie? Regs click op die foto. Kies dan die opsie "search google for this image" 
  • Soek jy na 'n patroon wat of gehekel of gebrei kan word soek dan so: [crochet pattern beanies OR knitting pattern]  Dit is belangrik dat OR in hoofletters getik word. 

Daar is nog baie ander truuks wat gebruik kan word maar die boonste lys kan jou internet soekery alreeds baie vergemaklik. En moet ook nie vergeet van die "Skakels" afdeling heel bo aan die blad nie. Daar is verskeie skakels na webwerwe met duisende patrone. Ek sal ook nog meer skakels plaas mettertyd. 

Ek hoop dit help so effens en maak die lewe so bietjie makliker. 

Indien enige van julle dalk ook 'n tip het om die lewe te vergemaklik met die internet soekery is julle welkom om  dit met ons te deel deur 'n boodskappie te los. 

Mooi dag almal en lekker hekel!

No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica