Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

"Circle of Friends" en Pronkertjies.


Vandag wil ek die 'Circle of Friends' blokkie met julle deel. Ek is besig om 'n kussing oortreksel te hekel met Pure Gold Dubbeldraad en 4mm hekelpen en gebruik hierdie patroon. 

Die kleure wat ek gekies het is 'Cherry Red', 'Hazelnut', 'Tigers Eye', 'Midnight Blue' en 'Vanilla'.

Al die blokkies is klaar gehekel en nou moet ek nog net die agterkant voltooi.  Ek hekel dit sommer in lang ouma rye. 



Is hierdie pronkertjies nie te pragtig nie! Die bloemiste in die sentrum waar ek werk verkoop hierdie bossies vir slegs R10,00 'n bossie en ek kon dit nie weerstaan toe ek nou die middag daar verby stap nie.

Lekker dag vir julle almal en lekker hekel!


Hekel Inspirasie: Boek Oortreksel



Ek het hierdie funky doilie tussen my hekel 'stash' uitgekrap en besluit om dit te gebruik as versiering op 'n oortreksel vir my waterverf joernaal. 


Hierdie boekie is wat ek noem 'n mini joernaal want ek kan dit lekker in my handsak saam karwei.


Ek het twee groot liefdes, hekel en geillustreerde joernale.

Ek eksperimenteer gedurig met my waterverf, gouache en copic markers om maar net 'n paar van die vele produkte te noem. Links kan julle sien hoe die joernaal lyk wanneer dit oopgevou is. Die doilie is op geel filt vasgewerk. Ek het die woord Journal geborduur en ook 'n gespe met 'n stukke filt gemaak. Ronde dotjies velcro, een op die boekie en een aan die onderkant van die gespe keer dat dit per ongeluk oopgaan in my handsak. 

Aan die binnekant het ek aan beide kante  sykante vasgewerk sodat die voor en agterblad  daarin kan druk. Maklik om in en uit te haal wanneer die boekie vol is. Ek maak my eie joernale en hierdie een is dan ook gebind met waterverf papier. Sodra hierdie boekie vol is kan ek dit uithaal en 'n nuwe een daarin plaas.  





En ek moes natuurlik ook gou-gou ietsie skets en verf om my nuwe joernaal in te wy! :)


Armbande

Hekel 'n versameling armbande in al jou gunsteling kleure!

[Klik om te vergroot]

Hierdie armbande is so veelsydig om te maak. Al wat jy nodig het is katoen of akriel gare, 'n hekelpen, 'n ketting of kant en verbeelding. 



Ek het begin deur eers 'n hoeveelheid krale in te ryg op die draad wat ek wil gebruik. Hier gebruik ek Elle Premier Katoen 4draad en 'n 1.5mm hekelpen. Sorg dat die hekelpen gemaklik deur die skakels van die ketting kan steek.

Merk dat ek sommer vislyn gebruik om krale te ryg. Dit is baie makliker en ek hoef nie te sukkel met 'n naald wat nie wil deurtrek nie.


Omdat die ketting wat ek gebruik se skakels regop en plat loop het ek besluit om slegs in elke tweede skakel te werk.

Ek het 2kb in elke tweede skakel gehekel met 2ks tussen-in. Die 2ks laat genoeg spasie hier sodat ek die ry gemaklik kan voltooi.
Na die eerste ry word die werk omgedraai sodat die krale ingehekel kan word.



Hoe om die krale in te hekel: 



Stoot die kraal tot teen die werk en werk die volgende kortbeen soos normaalweg.




Die kraal kan nie gesien word nie en is aan die agterkant geplaas. Onthou die verkeerde kant van werk wys na ons toe wanneer ons krale op hierdie manier inhekel want die kraal skuif na agter.



Ek het na elke kraal 2 kortbene gewerk. Nou moet die volgende kraal gewerk word.

Stoot die kraal tot teenaan die werk, steek hekelpen deur die steek, slaan draad om pen en trek deur.

Slaan draad weer om pen en trek deur albei lusse om die kortbeen te voltooi.

Die kraal lê knus aan die agterkant van werk.











Hier is die ry voltooi. Die krale lê tussen die kortbene.











Turkoois armband gewerk deur ketting en 'n fyn ketting is deur die armband geryg vir iets anders.

Rooi en Dieppruim gewerk deur ketting.

Pers is die demonstrasie armband.

Roesbruin en room is deur 'n stukkie kant gewerk.

'n Maklike en goedkoop manier om vir jou 'n armband te maak wat eie en uniek is!

Lekker hekel!
Groete


Kleur Inspirasie #1


Besorg dit jou hoofbrekens wanneer dit kom by die kies van kleure vir 'n nuwe projek? 

Het jy 'n gunsteling kleur maar weet nie hoe om ander kleure daarby te gebruik nie? 



Hierdie is die eerste artikel wat handel oor kleur en in die toekoms beplan ek om verskillende kleurkombinasies te bespreek. 




Ons word elke dag omring met kleur en daar is soveel wat by ons verby gaan sonder dat ons enige aandag daaraan gee. Om kleure bymekaar te sit is 'n kuns op sy eie en kan 'n projek maak of breek. Jy kan die mooiste hekelpatroon gebruik maar die verkeerde kleure gebruik en dit sal nie naastenby soveel impak hê nie.

Tekstiel ontwerp is 'n wonderlike bron vir kleur inspirasie. Het jy 'n gunsteling bloes of kledingstuk? Indien jy nie het nie kan jy deur tydskrifte blaai of dalk is daar 'n kleurvolle toppie in die winkel en die kleure wat saam gebruik word, is vir jou te pragtig. Besoek 'n materiaal winkel en kyk na die kleurkombinasies wat gebruik word. Die etikette op gebruiksware maak ook gebruik van kleurkombinasies.  Daar is oral kleur om ons! Gebruik dit as vertrekpunt en hou dit in gedagte wanneer jy jou volgende projek beplan. 

In die foto bo wys ek hoe ek my kleure gekies het vir hierdie kleurvolle blokkie. Dit is dieselfde patroon wat ek gebruik het vir die Mohair en Pure Gold blokkie wat julle hier kan kry. Ek het hierdie blokkie gehekel met Elle Premier Katoen 4 draad en 'n 3mm hekelpen. 

Links is my gunsteling toppie. Ek is mal oor die kleure en kry ook baie komplimente wanneer ek dit dra. Ek het vyf kleure gekies vanaf die ontwerp. Daar is 'n diep pers, turkoois, koningsblou, diep oranje en ougoud. Die blokkie is beslis na my mening treffend! Die kleure gesels met mekaar en komplimenteer mekaar vreeslik mooi! 

Wat dink julle? Die kleure is vir my asemrowend!

Ek hoop julle gaan lekker speel met kleurkombinasies en mag dit vir  julle die kies van kleure so effens makliker maak.!

Lekker hekel almal!

Tunisiese Hekel: Driehoek Serp



Hier in die Kaap het ons 'n heerlike somers week gehad. Die son het geskyn en vir die eerste keer in maande het mense rondgeloop met kaal arms. Kort kort het jy aanmerkings gehoor soos "Die somer is hier." Maar helaas was dit van korte duur want gister het die wolkies ingestroom van die see se kant af en lekker kom nestel hier teen die berg. Vroeg vanoggend toe ek opstaan was dit duidelik dat Winterman nog nie klaar gekuier het nie.  Verwarmers is weer aangeskakel en die armpies is weer toegemaak want buite waai die windjie yskoud en die wolkies gooi ons papnat hier onder. Ek het amper begin dink dat hierdie Tunisiese serp van my dalk eers volgende winter gedra sal word! ;)

Vir die van julle wat ook hou van Tunisiese hekel het ek die patroon saamgestel. Indien jy nog nie Tunisiese hekel probeer het nie wil ek ook sommer byvoeg. Dit is 'n heerlike en vinnig handwerk tegniek en inderdaad terapeuties. Doen jouself die guns en probeer dit! Ek het 'n hele afdeling oor die basiese tegnieke daarvan wat hier gevind kan word. 

Materiaal gebruik:

Lollipop Lambslook Aran en 'n nommer 7 Tunisiese hekelpen.  Lollipop Lambslook is 'n akriel draad maar dit lyk en voel nes wol. Dit is heerlik sag en die serp is snoesig en warm. 










Begin met 4ks,




Ry 1: In 3e ks trek 'n lus deur, 1ks, in vlg ks trek 'n lus deur, 1ks. [3 steke op pen]








Terugwerk ry: Werk steke af soos volg: * slaan draad om pen en trek deur 2 lusse,* herh nog 1 keer. [1lus oor op pen] 

Normaalweg moet daar met Tunisiese hekelwerk in die terugwerk ry  eers deur die eerste lus 'n ks gemaak word en daarna moet twee-twee lusse afgewerk word tot die einde maar hier word dit nie so gedoen nie. Hier word daar dadelik vanaf die begin twee-twee lusse saam afgewerk tot een lus op pen oorbly.




Ry 2: 1ks, steek pen deur die eerste vertikale balk, slaan draad om pen en trek lus deur [basiese tunisiese steek [afkorting =  btst]  Deur elke keer deur die eerste balk te werk word een steek vermeerder aan die begin van 'n ry]; werk nou 1ks, * btst in vlg st, 1ks,* herh nog 1 keer.
Terugwerk ry: Werk steke af op presies dieselfde manier as ry 1 deur twee lusse op 'n slag af te werk.









Ry 3:  1ks, 1btst in 1e lus, 1ks, *1btst in vlg lus, 1ks,* herh van * tot * tot einde van ry. 

Terugwerk ry: Volg instruksies soos vir ry 1.









Herhaal ry 3 totdat daar 60 steke op pen is. 

Nou moet daar verminder word in elke ry totdat daar weer 3 steke oor is op pen. 







Om te verminder word die 1e balk oorgeslaan en die 2e en 3e balk word saam gewerk. 


Steek die pen dus deur die 2e en 3e balk, slaan die draad om pen en trek lus deur albei.










Hier kan gesien word hoe die 2e en 3e balk saam gewerk is. 









'n Maklike en heerlike serp patroon.

Lekker hekel almal!












Kuiergas #5: Lezelda Faul


Ons kuiergas vandag is Lezelda Faul van Hartenbos. Lezelda se hekelwerk is kleurvol, pragtig en opwindend. Baie welkom Lezelda!

Monica: Vertel ons asseblief wie jy is en van waar? 
LezeldaEk is Lezelda Faul (43 jaar oud) en is in die gelukkige posisie om by die see, Hartenbos, te woon. 

Monica: Hoe lank hekel jy al?
LezeldaEk hekel nou so amper 3 jaar.



Monica: Waar kom jou inspirasie vandaan en wie het jou geleer hekel?
LezeldaDie eintlike inspirasie vir hekel was seker my dierbare vriendin van Oudtshoorn, ons kon deurnag hekel!  As kind het ek by my Italiaanse ouma slaapsokkies leer hekel deur “look and learn”, maar nie aanhou hekel nie.  Ek het by my ander ouma ‘n baie ou hekelboek gekry waar jy jouselfr kan leer hekel, so ek het die boek op ‘n dag nader getrek en so begin – soos my man sê:  Julle moet dit sien!  Want dis handleidings met die steke aanwysings, foto’s, i-pad en boeke om my as ek ‘n patroon aanpak. 

Monica: Enige gunsteling draad wat jy graag gebruik?
LezeldaWanneer ek ‘n groot projek aanpak, soos ‘n kombers, gebruik ek graag Elle Pure gold, andersins gebruik ek enige sagte wol of gare waarvan die kleur met my “praat”.  Ek hou van helder, kleurvolle items.

Monica: Gunsteling artikels wat jy graag hekel?
LezeldaGunsteling artikel tot dusver was die sakke wat ek hekel.  Ek geniet dit so om met die kleure te “speel” en elke sak anders te maak.  Die African flower is ‘n gunsteling patroon – ek het na die een kombers klaar was, dadelik die volgende aangepak.


Monica: Hoeveel tyd kry jy om te hekel?
LezeldaEk sê altyd alles wat ek hekel is “wag” items, om rede ek elke kosbare minuut gebruik om te hekel – wanneer my kinders HipHop, netbal speel, ek kos maak, wag by die ortodontis, enige tyd enige plek!  Ek gaan ook nooit vroeg slaap nie en hekel tot laataand.  My hekelsak is altyd in die motor – my hande moet besig bly, anders slaap ek!  My kinders het al gesê dis so “embarrassing” as ek so hekel, maar ek het ‘n keuse gestel:  of ek sit en slaap en snork OF ek hekel!

Monica: Hoekom dink jy is hekel so gewild?
LezeldaEk reken hekelwerk is so gewild, omdat dit nie net meer doillies en kledingstukke is nie.  Ook vir die kleur wat jy daarin sit.  Ek sien dit as iets soos inkleur.

Monica: Watter kleur is jou gunsteling om te gebruik in projekte?
LezeldaGunsteling kleur is pienk, groen, blou en rooi.

Monica: Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy om te verkoop?
LezeldaHekel is eintlik maar een van my vele stokperdjies.  Soos wat ek hekel kry dit gewoonlik baie vinnig ‘n koper.

Monica: Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel?
LezeldaWat ek ook al aanpak, glo ek, mag net nooit “home made” lyk nie, so ek probeer om altyd ‘n ietsie ekstra mooier daarvan te maak.  Ek bied so af en toe ‘n hekelgroep aan, maar hekel veel lekkerder op Saterdae saam met goeie vriendinne by my huis.


Monica: Het jy 'n facebook blad of webwerf?
LezeldaEk het ‘n facebook blad waar ek met my handewerk spog:  Lezelda Barocci Faul

Monica: Baie dankie vir jou Lezelda! Dit was heerlik om jou hekelwerk te sien en jou beter te leer ken. Jou werk is pragtig en lyk beslis nie 'homemade' nie. Jy kan voorwaar trots wees! 
LezeldaBaie dankie vir die geleentheid om ook ‘n kuiergas by Hekel Idees te wees.  Ek sien regtig baie uit na die uitgawe.  Lekker dag!

Monica: Dankie Lezelda! :) Tot volgende keer: 

Lekker hekel almal!