Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Hekel 'n ring.






Maak 'n 'fashion statement' en hekel vir jou 'n ring. Hierdie ringe is so maklik en vinnig om te maak dat jy vir jou een in elke denkbare kleur kan hekel. Jy kan die blommetjie weglaat en versier met krale, lint, felt of wat van 'n stukkie leer of kant. Gee jou verbeelding vrye teuels en raak sommer net lekker kreatief. 

Ek weet nie of julle al die nuwe reeks van Elle Crochet no 5 gesien het nie, maar hier onder is 'n foto van een van die kleure.  Ek is mal daaroor. Daar is verskeie kleurkombinasies en gaan beslis 'n wenner wees hierdie somer. 


Materiaal gebruik: Elle Crochet Cotton no 5 en 'n 2mm hekelpen vir die band en enige Crochet no 8 vir die blommetjie. Die blommetjie kan ook met die 2mm hekelpen gehekel word of indien verkies gebruik 1.50mm hekelpen. Ek het die 2mm hekelpen deurgaans gebruik.


Begin met 7ks.

Ry 1: 1hlb in 3e ks vanaf pen, 1hlb in elke van vlg 4ks, draai


Ry 2: 2ks, 1hlb in die 1e steek, 1hlb in elk van vlg 4hlb, draai


Herhaal ry 2 totdat die band lank genoeg is om om jou vinger pas.


Hekel nou om 3 van die sye 'n ry kortbene. Een van die kort kante hoef nie 'n ry kortbene te kry nie want die band gaan hier vasgewerk word.


Blommetjie.



Begin met 'n garesirkel.

* 2ks, 3lb, 2ks, gs terug in die garesirkel; * [1 blaar is nou voltooi]; herh totdat daar 5 blare  is. Heg af.








Vou die band in die helfte en werk die blommetjie in die middel van die band in posisie deur 'n klein knopie in die middel van die blom te plaas en dan aan die band vas te werk. Werk nou die band aanmekaar vas en heg af. 




Mooi bly almal en lekker hekel!

Hekel 'n Vader Kersfees vir die Kersboom.


Kan julle glo Kersfees lê al weer en loer om die draai. Hier is 'n Kersfees vader ornament wat die Kersboom sal verfraai. Dit is ongeveer 10cm hoog en is gehekel met 'n 4draad katoen. Vir 'n kleiner ornament gebruik 'n hekelgare no 5 en 2mm hekelpen. Hekel sommer 'n hele klompie om die Kersboom te versier met jou eie gehekelde handewerk.  


Materiaal gebruik: Elle Premier Katoen 4 draad en 3 mm hekelpen.

Begin met Rooi draad en werk 5 ks. Glipsteek om ring te vorm.

Ry 1: 1ks, werk nou 11hlb [halwe langbene] in die ring.

Ry 2: werk 2hlb in elk van die 11hlb [22hlb] [Plaas 'n merker in die 1e hlb van rondte en verskuif met elke nuwe ry om aan te dui waar die begin van elke ry is]

Ry 3: *1hlb in vlg hlb, 2hlb in vlg hlb * herh van * tot * tot einde van rondte

Ry 4: werk 1hlb in elke hlb tot einde van rondte. Glipsteek in die 1e hlb en heg af.
Ry 5: Heg Wit draad in dies hlb. Werk 1ks en 1hlb in elke hlb reg rondom, maar steek hekelpen slegs deur die voorste lusse van die steke. Glipsteek in 1e ks en heg af.

Ry 6: Heg Rooi draad in enige hlb.  2ks, 1hlb in dies steek, *1hlb in elk van vlg 2 hlb, 2hlb in vlg hlb* herh van * tot * tot einde van rondte.



Ry 7: 1hlb in 2e ks, [plaas merker om begin van rdte aan te dui]; 1hlb in elke hlb tot einde van ry.

Ry 8: 1hlb in elke hlb [onthou om merker te skuif]

Ry 9 en 10: Herh ry 8

Ry 11: 1hlb in elk van vlg 5 hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hllb in elk van vlg 5hlb, * herh van * tot * tot einde van rdte. [Die rondte sal eindig met slegs 2hlb nadat 'n hlb oorgeslaan is]

Ry 12: 1hlb in elk van vlg 3hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 3hlb * herh van * tot * tot einde van rdte. [Die rondte sal eindig met slegs 1hlb nadat 'n hlb oorgeslaan is] Heg af.

Ry 13:   Heg Wit draad in 1e hlb, 2ks, 1hlb in elk van vlg 2 hlb, * slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 3hlb,* herh van * tot * tot einde van rdte. [Die werk sal vinnig na mekaar toe trek. Dit is die nek gedeelte]

Ry 14: 2ks, 1hlb in dies st, *1hlb in elk van vlg 2hlb, 2hlb in vlg hlb; * herh van * tot * tot einde van rdte [Daar is in hierdie rondte weer vermeerder]

Ry 15, 16 en 17: 1hlb in elke hlb.

Ry 18: 1hlb in elk van vlg 2hlb, *slaan vlg hlb oor, 1hlb in elk van vlg 2hlb,* herh van * tot * tot einde van rdte. Heg af. Laat genoeg draad vir die saamtrek en vaswerk van bokant van kop gedeelte alvorens die draad geknip word. 




Gebruik watteersel en vul die binnekant totdat dit lekker styf gestop is. Gebruik 'n wolnaald en werk die bokant van kop gedeelte toe. deur die gare eers deur die steke te ryg en dan saam te trek. 







Hoedjie: 

Begin met Rooi draad en werk 30 ks,  1lb in 4e ks vanaf pen, 1lb in elke ks tot end [28lb]. Heg af.

Vlg ry: Heg Wit draad en werk 1hlb in elk lb tot einde van ry. Heg af. 

Vlg ry: Heg Rooi draad in 1e hlb, 3ks, * werk vlg 2lb tesame,* herh tot end en eindig met 1lb in laaste hlb, 3ks, draai

Vlg ry: Werk vlg 2lb tesame, herh tot end en eindig met 1lb in laaste lb, 3ks, draai

Werk nou 2 rye deur 1lb in elke lb te werk. Heg af. Vou hoedjie om en werk naat toe. 

Borduur ogies deur 'n swart borduur draad te gebruik en maak Franse knopies. 

Gebruik watteersel vir die baard en werk die mondjie bo oor die watteersel met 'n stukkie rooi borduur draad. 

Trek die hoedjie oor die kop en werk in posisie vas. Gebruik 'n stukkie lint vir die band om die lyfie en borduur 'n gespe bo oor die band of gebruik 'n vierkantige knoop. 

Borduur 2 regaf lyne om die arms voor te stel.

Werk 'n tosseltjie of klokkie aan die punt van die hoedjie vas. 

En hier is ons Kersfeesvadertjie. Gereed om sy plekkie aan die boom te kry. 

Ek hoop julle geniet dit ook om hierdie ornamentjies vir julle boom te maak.


Lekker hekel almal!


Hekel groete

Kuiergas #4: Rina Botha


Baie welkom aan ons kuiergas vandag. Ek stel aan julle voor Rina Botha. 


Monica: Vertel ons asseblief wie jy is en waar jy bly?

Rina: My naam is Rina Botha en ek woon in Witbank, Emhalahleni.

Monica: Hoe lank hekel jy al?

Rina: Ek het begin hekel toe ek 8 jaar oud was - ek gaan nie sê hoe lank nie want 'n dame verklap nie haar ouderdom nie - haha ( ek is 'n ouma-groot).

Monica: Wie het jou geleer hekel?

Rina: My moeder het op daardie stadium baba baadjies geheel en toe het ek vir haar gese ek wil asb. doen wat sy doen, toe leer sy my en vandaar het sy die baadjies gehekel en ek het die booties gemaak.

Monica: Enige gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel?

Rina: Op die oomblik is dit ELLE en in vroeer jare was dit TRIDALIA.


Monica: Enige gunsteling artikels wat jy graag hekel?

Rina: Geen gunsteling nie - wat ook-al versoek word, die maak ek, al gee my dogter net prentjies (want sy glo ek kan ALLES doen) werk ek selfs daarmee. Selfs my kleindogter soek haar pop uitgerus met dieselfde klere wat ek vir die baba's maak!!!



Monica: Hoeveel tyd kry jy om te hekel?

Rina: Van ligdag tot laatnag en selfs daarna sonder etenstyd, teetyd, naweke, rustyd, sieketyd, vakansietyd. My manlief voel dit is 'n ewel in die huis omdat die hekel al die aandag kry en die res by my verby gaan en net die hekel bestaan, haha. As dit nie vir my hondekind was nie het ek seker nooit opgestaan om net bene te rek nie, gelukkig moet sy van tyd tot tyd uitgaan want haar blaas kan nie ALLES inhou nie!


Monica: Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Rina: Hekel word nou weer gewild want die jonges begin weer die waarde sien in hand gemaakte items. Die mode herleef weer soos maar met baie baie ander goed en dan kry dit net 'n moderne twist in. My 1 dogter en haar 2 dogters is "ou-siele" en vir hulle was handwerk nog altyd in die mode en pragtig. Die jonges besef ook dis deel van jouself wat jy saam met die hand gemaakte item vir die volgende persoon gee - en dit is "priceless". As jy ook kyk na die massa produksie en kwaliteit van goedere wat nou die mark oorstroom BLY hand gemaakte items MEEER waardevol en van uitstaande GEHALTE - "IT CAN STAND THE TEST OF TIME"



Monica: Wat is jou gunsteling kleur wat jy gebruik?


Rina: Enige kleur - wat ook-al deur my kliente versoek word. Donker kleure is saans net baie moeiliker maar dan help skerper ligte weer!!!

Monica: Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop ook jou artikels?

Rina: Beide - tans kan ek nie voorbly met my babagoed wat ek moet maak nie en nee dis nie vir my eie agter kleinkinders nie. Ek het ook glad nie geadverteer nie, dis maar "word of mouth", die dame wat my hondekind bad het die verwysing na my gestuur en ek kan net eenvoudig nie voor bly nie. My eie kinders met hulle versoeke moet maar in die tou staan en wag totdaar 'n gaaping is waar ek nie babagoed maak nie en intussen bly my een dogter net foto's stuur van wat sy wil he. Dit word alles geprint en in 'n leer gesit sodat ons kan onthou watse versoeke daar alles was, so as daar dames is wat van hulle ekstra tyd wil ontslae raak, ek neem dit met graagte van julle hande af, haha!

Monica: Is daar enige iets wat jy graag sou wou byvoeg?

RinaMy kinders verskil soos dag en dag en wat vir die een mooi is, is weer nie vir die ander nie. Hulle gee vir my 'n baie wye spektrum van goed wat ek moet maak. Verveeldheid is daar dus beslis NIE in my patroon versameling nie. Ek leer my 7jarige kleindogter van tyd tot tyd so bietjie tolletjie te brei. My 1 dogter bly aan my sit om dit verder te vat en meer van die laerskool kinders die kuns te leer, maar ek is nog net nie daar nie - nie lekker seker waar ek dit gaan inpas nie want ek is klaar amper 20 uit die 24 ure per dag besig met my hekel/breiwerk (ekstra tyd???). Ek mag dalkies nie 'n "kunstenaar" wees wat skilder nie maar ek leef my kunstigheid uit in my handwerk en die plesier en genot wat dit my verskaf om te sien dat die ontvanger van my hande werk daarvan hou en dit waardeer en geniet, maak die ure se sit absoluut die moeite werd.

Monica:  Baie dankie vir jou tyd Rina. Jy is beslis nie verveeld nie. Daarvoor sorg die hekelwerk beslis. Dit was lekker om saam met jou te kuier en dit is wonderlik om te sien hoe hekelwerk jou lewe vol kan maak. 

Dit is duidelik dat daar geen ledige uurtjies in Rina se dag is nie en dat hekelwerk vir haar die heel lekkerste handwerk op aarde is. Doen so voort Rina en lekker hekel!

Tot volgende keer dan liewe lesers!
Mooi bly en lekker hekel!
Hekel groete

Hekelsteek Kombinasies: Die "V" Steek.

                                         

Materiaal gebruik vir boonste blokkie is 'n 4mm hekelpen en Elle Pure Gold DK [Dubbeldraad]


Hierdie blokkie is gehekel deur te begin met 35ks. 

Ry 1: 1lb in 5e ks vanaf pen, * slaan vlg 2 ks oor, werk in vlg ks die volgende: [1lb,1ks,1lb]; * herh vanaf * tot * nog 9 keer [11 'V' groepe], draai

Ry 2: 4ks, 1lb in eerste 1ks sp, * werk in elke vlg 1ks sp die volgende: [1lb,1ks,1lb].

Herhaal ry 2 deurgaans.

Idees: 

  • Blokkies soos hierdie vertoon baie mooi in 'n kombers.  Jy kan elke blokkie met 'n ander steek kombinasie ook doen maar dit kan net so effektief wees om al die blokkies presies dieselfde te doen in verskillende kleure of draai elke tweede blokkie sodat die steke dwars loop. Dit speel met die oog en gee ook die gevoel van ekstra tekstuur.
  • 'n Ander idee is om die gehekelde blokkies af te wissel met gebreide blokkies.
  •  Hou jy van borduurwerk kan die blokkies weer afgewissel word met geborduurde lappies. 
  • Gebruik stukkies kant, knope en lint hier en daar. 
  • Gee jou verbeelding vrye teuels en wees net kreatief! 

Hier het ek 'n 5mm hekelpen en Elle Pure Gold Dubbeldraad gebruik. Die groter pen laat die patroon meer oop vertoon en is ideaal vir serpe want dit gee 'n baie sagte eindproduk wat baie mooi drapeer. 

Babakombersies sal ook pragtig lyk wanneer hierdie steek gebruik word. 



Geniet 'n wonderlike week almal!
Hekel groete

Yarn Indaba 2014


Daar is 'n wonderlike projek aan die gang en vir die van julle wat nog nie gehoor het van  Yarn Indaba 2014 nie wil ek bietjie meer inligting gee. 

Almal weet by hierdie tyd wat 'Yarn bombing' is. Jip, dit is wanneer enige ding wat lank genoeg stil staan toegemaak word met wol.  Bome, huise, pale, en draad heinings is net 'n druppel in die emmer.  


Nou gaan daar probeer word om die Voortrekker Monument se trappe toe te maak met wol. Dit sal die Wêreldrekord vir die grootste 'Yarn bomb' projek nog ooit wees. Almal wat wil deel wees van die projek, of jy nou hou van hekel of brei, jy kan meedoen en help om die rekord op te stel.

Daar is oor as genoeg tyd om te begin hekel of brei want die blokke moet eers op 1 Julie 2014 klaar wees. Die blokke word dan ook na die 'Yarn bomb' geleentheid oorhandig aan liefdadigheids organisasies vir die maak van komberse. 

Klink dit nie na 'n wonderlike byeenkoms nie en al kan jy nie die geleentheid bywoon nie kan jy nog steeds deel wees daarvan deur jou blokke aan te stuur. 

Vir meer inligting besoek gerus Yarn Indaba se Facebook bladsy. Kom ons wys die wêreld wat gedoen kan word! 
Mooi bly almal!

Patroon Steke: Die Gehekelde Mossteek.


Die mossteek is 'n pragtige en maklike steek om te hekel. Dit is effe kompak en vertoon dieselfde aan albei kante van werk.  Die 2 steke wat gebruik word hier is die glipsteek [gs] en die halwe langbeen [hlb] 

Die patroon werk in veelvoude van 2.

Vir hierdie tutoriaal begin ons dus met 20 kettingsteke.

Ry 1: Werk 'n gs in die 3e ks vanaf pen,  *1hlb in vlg st, gs in vlg st* herh tot end.





[Jy moet weer eindig met 'n hlb want jy het in die 3e ks vanaf pen begin werk en dit beteken die eerste hlb word  verteenwoordig met die 2ks wat reg aan die begin van die ry lê]




Ry 2: Jy gaan nou  'n hlb in elke gs van die vorige ry werk en waar jy 'n hlb in ry 1 gemaak het werk jy nou 'n gs. Hierdie ry gaan dus eindig met 'n gs en sal soos volg lees: 1ks, gs in 1e hlb,  *hlb in gs, gs in hlb* herh tot end. [Onthou om 'n gs in die heel laaste draai ks te maak]



Hier kan gesien word hoe die patroon vertoon na die 2e ry voltooi is. 





Ry 3: 1ks,  hlb in 1e steek, * gs, in hlb, hlb in vlg gs* herh tot end. [Hierdie ry begin en eindig weer met 'n hlb]


Let op waar die hekelpen ingesteek moet word. Dit kan verwarrend wees veral vir die beginner. Daar is 'n skuins lussie wat voor die steek lê. Dit kan maklik aangesien word as die steek maar tilt die ry effe na die voorkant en jy sal merk dat die steke effe na die agterkant toe lê. 




Merk die 'v' lussies wat gesien kan word wanneer die werk getilt word. Dit is die steke waardeur gewerk moet word. 






Ry 4: Ons het 'n hlb in die laaste steek gewerk dus moet ons nou weer begin met 'n gs in die 1e st. Werk altyd die draai kettingsteek, dus voordat jy met enige ry begin werk eers 1ks en begin dan om die ry te hekel vanaf die eerste steek tot by die laaste steek.

[Hier dui die naald die presiese plek aan waar die volgende steek gewerk moet word. Dus net agter die skuins lussie en onderdeur die 'v' wat net aan die agterkant daarvan lê .]










Volg net die stappe soos bo verduidelik. Een ry sal begin en eindig met 'n gs en die volgende ry sal begin en eindig met 'n hlb. Jy werk altyd 1gs in 'n hlb en 1hlb in 'n gs. 









Die agterkant en voorkant van werk vertoon dieselfde.  








En dit is dan die Gehekelde Mossteek. 
Lekker hekel almal!

Kuiergas #3: Maryke Symington.

Baie welkom aan Maryke Symington wat vandag hier by Hekel Idees kuier. 

Monica:  Vertel ons asseblief wie jy is en  waar jy bly.

Maryke: My naam is Maryke Symington & ek bly in Kempton Park in Gauteng.

Monica:  Hoe lank hekel jy al?

Maryke: Ek het verlede jaar November besluit om die takie aan te pak.

Monica:  Wie het jou geleer hekel?

Maryke: My skoonsus het my die basiese gewys waarna ek 'n boekie wat ek in die Idees Tydskrif gekry het raadpleeg. Daar is ook 'n tannie in ons kerk wat my help wanneer ek vashaak. My tyd vir hekel is maar min so ek vergeet gou!



Monica:  Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel?

Maryke: Nee gits, op die oomblik hekel ek met gewone wol.

Monica:  Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?

Maryke: Ek is mal oor goedjies wat mens as geskenkies kan gee. My ringe is vir my baie spesiaal. Ek sal graag uiteindelik my hand aan beertjies (of so iets) vir minderbevoorregte kinders wil waag.

Monica:  Hoeveel tyd kry jy om te hekel?
Maryke: Glad nie baie nie. Ek hekel gewoonlik wanneer ek iewers moet wag & soms voor die TV (alhoewel TV kyk ook soos koekies in die kinderhuis is!)

Monica: Ek hoor jou Maryke. Ek kyk nie TV nie ek luister TV!  Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?

Maryke: Ek neem vir myself dat ougoed sentimenteel is & ek's nogal erg sentimenteel. Ek sal hoop dat met die wêreld wat so verander om te hekel mense sal laat verlang na hulle oumas / ma's ... Verder is hekel terapeuties (eintlik enige craft of  enige iets wat jy met jou hande doen)

Monica:  Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?

Maryke: Ek is LIEF vir lekker HELDER & BALDADIGE kleure. My skeppings moet SKREE van blygeit!

Monica: Ek stem saam. Ek is glad nie bang vir kleur nie.  Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?

Maryke: Op die oomblik is dit net 'n stokperdjie. Of ek ooit items sal verkoop ... ek weet nie ...

Monica:  Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.

Maryke: Ek maak kaartjies, papier, seep & kerse. Ek doen ook kalligrafie alhoewel ek dit vir eers opsy geskuif het. Mens se lewe verander erg wanneer die kinders kom & my kinders is op die oomblik my eerste prioriteit. Tyd vir kreatief wees begin nou weer 'n moontlikheid raak & ek gryp elke kans wat ek kry met albei hande aan.
Ek beplan eersdaags kreatiewe klassies vir mammas en/of kinders. Ek het reeds begin met 'n kits4kids reeks (ek is op Facebook) waar ek crafts in 'n pakkie opmaak met aanwysings & verkoop. So kan Mamma/Pappa tyd saam met hulle kind spandeer & die kind leer terselfdertyd 'n craft aan. Ek moet my blad opdateer want ek kry nie baie tyd nie. Ek het ongelukkig net soggens (4 ure) om huis skoon te maak (ek is 'n tuisbly mamma sonder hulp), ek help my man met sy besigheidsboeke, sorg vir die koskaste & probeer ook om so nou & dan 'n koppie koffie/tee by 'n vriendin te drink. Monica, dankie vir die geleentheid om deel te wees van Hekel Idees. Jy't my al soveel gehelp. My volgende uitdaging is die "granny squares".

Monica: Ek glo ook daaraan dat kreatiwiteit iets is wat van kleins af beoefen moet word en wanneer 'n gesin saam kreatief raak bou dit intieme en hegte bande. Dit is die saamwees en dinge saam doen wat so belangrik is.  Jou Kits4Kids klink na 'n baie lekker projek en ek wens jou alle voorspoed toe. 

Sodra jy die Granny Square onder die knie het sal daar geen keer wees nie. Die immer gewilde Granny Square is ouwêrelds en tydloos en die gebruik daarvan is eindeloos. 

Dit was lekker om met jou te gesels Maryke. Baie dankie! 

Lekker hekel!

Tutoriaal: Drasak vir Hekelgoed.


Ek het hierdie sak vandag uiteindelik voltooi en ek moet sê ek is baie in my noppies. Ek wou 'n lekker groot sak hekel waarin ek my kombers waarmee ek besig is kan rondkarwei en dit is groot genoeg om die ekstra wol plus die kombers te hou. 

Wat hierdie sak so lekker maak is die feit dat dit in enige grootte gehekel kan word want die onderkant word eerste gedoen en daarna word die sig-sag gedeelte apart voltooi om reg rondom die bodem van die sak te pas. Maar kom ek wys julle hoe om hierdie sak te hekel. 

Materiaal gebruik: Elle Pure Gold Dubbeldraad en 'n 3mm hekelpen. Ek het die 3mm pen gebruik om te verhoed dat die hekelwerk te los is. Die sak is nog steeds sag maar die steke is lekker kompak en lê mooi naby aan mekaar. 

Die Bodem:

Ry 1: Begin met 'n 5ks en gs om ring te vorm, 3ks, werk nou nog 13lb in sirkel, gs in 3e ks. [14lb]

Ry 2: 3ks, 1lb in dieselfde st, 2lb in elke lb tot einde van ry, gs in 3e ks. [28lb]

Ry 3: 3ks, 1lb in dieselfde st, 1lb in vlg lb, 2lb in vlg lb [daar word dus vermeerder deur 2lb in 'n lb te werk], herh dus deur soos volg te werk: *1lb, vermeerder in vlg lb,* herh van * tot * tot einde van rondte en eindig met 1lb, gs in 3e ks.


Ry 4: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 2lb, vermeerder in vlg lb,* herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 2lb, gs in 3e ks.


Ry 5: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 3lb, vermeerder in vlg lb, * herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 3lb, gs in 3e ks.

Ry 6: 3ks, 1lb in dieselfde st, *1lb in elk van vlg 4lb, vermeerder in vlg lb, * herh tot einde van ry en eindig met 1lb in elk van vlg 4lb, gs in 3e ks. 

Die bodem kan nou verder vergroot word deur elke keer een steek by te tel tussen elke vermeerdering. Dit beteken in ry 7 sal daar 5lb wees tussen elke vermeerdering. In die 8e ry sal daar 6lb wees, in die 9e ry 7lb ens. ens. Ek het my sak se bodem bly vermeerder tot ek 14lb tussen elke vermeerdering gehad het.  

Wanneer jy tevrede is met die grootte van die bodem stop jy met die vermeerderings en werk 'n paar rye deur 1lb in elke lb te werk. Die sak sal dan geleidelik begin opwaarts trek omdat daar nie meer vermeerder word nie. Ek het 9 rye gehekel en toe afgeheg. 




Ek het begin met 39ks en begin hekel. Verander kleure na keuse en hekel die strook totdat dit die lengte bereik om reg rondom die bodem gedeelte te pas. 



Gebruik 'n wolnaald en werk die twee dele nou aanmekaar vas met 'n oorhandsteek deur die sig-sag strook om die bodem te plaas sodat die verkeerde kant van strook en binnekant van bodem na jou toe wys.




Nadat die bodem en sig-sag gedeelte aanmekaar vasgewerk is kan die boonste gedeelte van die sak nou gehekel word.

Begin deur die draad te heg in enige van die rye, maak 3ks en 1lb in dieselfde plek en werk dan 2lb in elke ry wat duidelik gesien kan word in die foto. Vir elke sig-sag ry is daar 2lb in die sykant gewerk. 





Hekel nog 2 rye deur 1lb in elke lb te werk en heg af. 


Nou kan die bo-rand gehekel word. 


Groen ry: Heg draad in enige lb. 5ks, 1lb in dieselfde lb, *slaan vlg 2 lb oor en werk in vlg lb [1lb, 2ks, 1lb]; * herh van * tot * tot einde van ry en gs in 3e ks. Heg af.







Laaste ry: Heg draad in enige 2ks sp, werk 3ks en 5lb in dieselfde sp, *1kb in vlg 2ks sp, 6lb in vlg 2ks sp; * Herh van * tot * tot einde van ry en gs in 3e ks. Heg af. 



Dit voltooi die sak en nou moet die handvatsels en blomme gehekel word.
Besluit hoe lank die handvatsels moet wees en begin met 'n aantal kettingsteke. Ek het 110ks gebruik en werk dan 4 rye halwe langbene en heg af. 

Om die bande te versterk en te verhoed dat dit uitrek werk nou 'n ry glipsteke reg rondom die band. 


Hier kan die ry glipsteke gesien word soos dit aan die onderkant van die band sal vertoon. 
Werk die glipsteke reg rondom die band.  


Hekel dan 4 Ierse rosies of enige ander versierings kan gebruik word. Ek het besluit om die Ierse rosies met gekleurde knope te gebruik vir my sak. 















En tadaaa! Hier is my sak.




Van bo af gesien. En die kombers met al die wolletjies is ingepak en staan gereed, net reg om gebruik te word!  












Ek hou so baie van die sak ek is sommer lus en maak nog een wat kleiner is en wat ek kan gebruik vir daardie kleiner projekte! 









Lekker hekel julle!