Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Hekel koffiebeker coasters en leer terselfdertyd hoe om met krale te hekel.



Materiaal gebruik: Elle Cotton On en 'n 5mm hekelpen. 10 Houtkrale 

Begin deur die krale te ryg. Ek het 10 houtkrale gebruik en wil sommer ook vir julle wys hoe om krale baie maklik in te ryg. Veral wanneer die draad dik is en die krale se gaatjie is klein kan hierdie metode die werk sommer baie maklik maak en jy ryg die krale ook sommer in 'n japtrap sonder enige probleme. Hierdie metode maak ook die ryg van linte en stroke materiale deur krale baie makliker. 


Gebruik 'n stukkie vislyn en vou in die helfte. Vou die draad wat deur geryg moet word en steek die vislyn deur die lussie van draad. Plaas die 2 punte van die vislyn deur die kraal se gaatjie en trek die draad deur.  





Daar kan nou sommer 'n hele klompie krale met een slag deurgetrek word sonder enige probleme.  





Begin met 'n gare sirkel. Werk 1ks en maak dan 8kb in die sirkel.

Ry 1: 2kb in die 1e kb, [plaas merker in die 1e  kb]; werk nou nog 2kb in elke kb reg rondom. [16 kb]











Ry 2: Verwyder merker en werk 1kb in hierdie kb, plaas merker terug in pas voltooide kb, 2kb in vlg kb, *1kb in vlg kb, 2kb in vlg kb* herh van * tot * tot einde van rondte.

Ry 3: Verwyder merker en werk 1kb, plaas merker terug in pas voltooide kb, 1kb in vlg kb, 2kb in vlg kb, * 1kb in elk van vlg 2kb, 2kb in vlg kb* herh van * tot * tot einde van rondte.




Ry 4: Verwyder merker en werk 1kb, plaas merker terug in pas voltooide kb, 1kb in elk van vlg 2kb, 2kb in vlg kb, *1kb in elk van vlg 3kb, 2kb in vlg kb* herh van * tot * tot einde van rondte. Verwyder merker en gs in hierdie kb. 

Ry 5: * 2ks, 2lb in dieselfde st, 1ks, slaan 3kb oor en gs in die 4e kb,* herh van * tot * tot einde van rondte en gs terug in die heel eeste gs wat aan die begin van rondte gemaak is.

Ry 6: Gs in die 2ks sp en dan weer in die 1e lb en werk 2ks,  trek kraal deur, [verwyder die hekelpen en gebruik die vislyn om die lus deur te trek]; neem weer hekelpen en  werk 2ks en gls in lb soos aangedui op foto links. 

Voltooi die rondte met die krale deur 2ks te werk, dan 'n kraal deur te trek, weer 2ks te werk en dan 'n gs in die vlg lb te werk . Eindig rondte deur terug te gs in die plek waar begin is. 



Vinnige en maklike coasters.

Tutoriaal: Hoe om die onderkant van eerste ry en bo-kant van laaste ry presies dieselfde te laat vertoon.


Het jy al blokkies gehekel wat begin met 'n strook kettingsteke en dan wanneer dit by die  aanmekaar las gedeelte kom besorg dit jou hoofbrekens want die onderkant van die blokkie en die bokant lyk nie dieselfde nie? 


Al die blokkies se laaste rye het die 'V' en dit is dus maklik om byvoorbeeld met die glipsteek tegniek hierdie twee kante aanmekaar te hekel deur elke keer deur die buitenste lussie te steek nie waar nie?










Maar sodra jy die onderkante wil las kom jy agter dat daar net een lus is waar deur gewerk kan word en alhoewel jy dan nie 'n ander keuse het nie word dit dan so gedoen.

Maar die verskil is tog duidelik sigbaar aan die voorkant van die werk. Daar is egter 'n manier om te keer dat hierdie frustrasie nooit weer in die vervolg plaasvind nie. 
Dit is wat ek met julle wil deel vandag. 




Normaalweg word daar die instruksie gegee om te begin met 'n aantal kettingsteke. Dan lees die patroon byvoorbeeld soos volg: 
1lb in die 4e ks vanaf pen. Die foto links wys ook hoe dit gewoonlik gedoen word. Maar wanneer ons dit so doen beteken dit daar is net een lus wat aan die onderkant van die werk gaan wys.  

Draai die kettingsteke om en merk dat daar net agter elke 'V' 'n lussie is wat amper soos 'n knoppie lyk.  In plaas van om die pen in die 4e ks te steek en dan in elke vlg kettingsteek te werk moet jy in hierdie agterste lussies werk. 

Dus sodra jy die kettingsteek strook met jou aantal kettingsteke gemaak het, tilt die strook om en werk deur hierdie agterste lussies.


Wanneer die patroon dus lees: Werk 1lb in die 4e ks vanaf pen dan werk jy die 1e lb in die 4e lus aan agterkant en daarna deur elke volgende lus.



Die eindresultaat is dat albei kante, bo en onder  presies dieselfde lyk. 

Die strook aan die linkerkant is soos gewoonlik gewerk  en daar kan duidelik gesien word dat daar net een lus is wat aan die onderkant wys. Die strook aan die regterkant lyk aan die onderkant presies soos aan die bokant.

Al vier hierdie blokkies  is met die glipsteek metode aanmekaar gehekel maar vertoon totaal en al verskillende omdat die linkerkantste blokkies se eerste ry in die lusse aan die voorkant van die kettingsteek strook gewerk is.

Die blokkies aan die regterkant is begin deur die kettingsteek strook om te draai en deur die agterste lussies te werk. Die glipsteke kan glad nie eens gesien word aan die regterkant van die werk nie. 

Dit is net soveel netjieser. 



Ek hoop julle vind die tutoriaal handig en kan dit toepas volgende keer wanneer julle van hierdie soort blokkies wil hekel. 

Lekker dag almal!



Hekelsteke: Springmielie Steek



 Die Springmielie Steek [spmst]




Vir die doeleindes van hierdie tutoriaal begin deur 13 ks/e te maak. Werk dan 1lb in die 4e ks vanaf pen. Werk 1lb in elke ks tot einde en draai. In die volgende ry gaan ons nou Springmielie steke werk. 

Gaan soos volg te werk: 

4ks, slaan die 1e en 2e langbene oor en werk 5lb in die volgende lb




Nadat die 5e langbeen voltooi is, verwyder die pen uit die werkende lus. Steek vanaf die voorkant deur die 1e langbeen en haak die werkende lus weer om die pen. 




Trek die werkende lus nou deur die 1e langbeen. Die 1e en 5e langbeen word na mekaar toe getrek en die steke wat tussen-in lê 'pop' na die voorkant van die werk. Slaan die draad om pen en trek deur lus om die spmst  af te sluit.  Dit voltooi die eerste Springmielie steek. 

Maak nog 2ks, slaan volgende 2lb oor en werk weer 5 langbene in die volgende langbeen. Verwyder pen, steek deur 1e langbeen, haak die werkende lus van die 5e langbeen en trek deur die 1e langbeen. 













Slaan draad om pen en trek deur om sodoende die springmielie steek af te sluit. Dit voltooi die 2e springmielie steek.













Maak 2ks, slaan volgende 2 langbene oor en werk weer 5lb in volgende langbeen. Herhaal die stappe presies soos voorheen.  

Nadat die 3e spmst voltooi is werk 1ks, slaan 1lb oor en werk 1lb in die 3e ks en draai.




Werk 3ks, 1lb in vlg sp, 1lb in spmst, 2lb in vlg sp, 1lb in vlg spmst, 2lb in vlg sp, 1lb in vlg spmst, 1lb in vlg sp, 1lb in 3e ks en draai.
 


Werk 4ks, slaan 1e en 2e st oor, spmst in vlg lb, 2ks, slaan vlg 2lb oor, spmst in vlg lb, 2ks, slaan vlg 2lb oor, spmst in vlg lb, 1ks, 1lb in 3e ks, draai. 




Herhaal nou net weer al die stappe soos voorheen. 





Wat gebeur wanneer jy in elke ry springmielie steke wil werk? Ons weet nou die steke 'pop' na die voorkant maar sou ons dit in elke ry doen sal dit nie werk nie. In daardie geval moet ons die springmielie 'pop' na die agterkant toe.

Gaan dan soos volg te werk: 

Voltooi die 5 langbene in steek soos voorheen. 

Maar steek nou die pen van die agterkant af deur die 1e langbeen, haak die werkende lus en trek deur.  
Die steke trek saam en 'pop' na die agterkant toe. Hier is die eerste spmst van voor gedoen en die 2e spmst is van agter gedoen. Die verskil kan duidelik gesien word. 

Dit word gewoonlik genoem 'n Springmielie steek agter of afkorting spmsta en die steek van voor is springmielie steek voor of spmstv. 





Daar is baie verskillende patroon variasies waar die Springmielie steek effens mag verskil afhangende van die steke wat gebruik word maar daar is gewoonlik instruksies by 'n patroon ingesluit om die stappe te verduidelik. 


Tutoriaal: Leer om te Wiggel-Waggel



Wiggel-Waggel Hekel



Wat is Wiggel-Waggel hekel? Dit is sommer die naam wat ek dit gedoop het omdat ek nie seker is wat dit in Afrikaans genoem word nie. In Engels het dit  verskeie name soos "Wiggly Crochet", "Wiggle Crochet" en selfs "Ruffle Crochet Technique". Hoe dit ookal sy ek het dit Wiggel-Waggel hekel gedoop omdat dit die manier beskryf  waarop te werk gegaan word om hierdie soort hekelwerk te doen. 

Die tegniek is die samevoeging van 2 verskillende hekeltegnieke en word dan ook in 2 stappe voltooi. Die eerste stap is om die basis of agtergrond te hekel waarop die Wiggel-Waggel dan gewerk kan word. 

Die agtergrond is niks anders as filet hekelwerk nie. 



Die blokkies word ook uitgewerk op presies dieselfde manier as wat met filet hekel gedoen word. Die diagram bo het 9 x 9 blokkies. Ons neem die aantal blokkies wat horisontaal geplaas is en vermenigvuldig met 3 en tel dan nog 5 steke by die somtotaal. 

Dus 9 x 3 + 5 = 32  Daar word dus begin met 32 kettingsteke.


Omdat die Wiggel-Waggel tegniek bo oor die Filetwerk gehekel word kan die filet glad nie vanaf die voorkant gesien word nie. Dit werk beter as 'n dunner wol of gare gebruik word vir die filet agtergrond want dit veroorsaak dat die kartels beter en digter vertoon. Werk dus met 2 verskillende dikte wol. In hierdie tutoriaal word 4 draad wol gebruik vir die Filetwerk en 'n  Dubbeldraad vir die Wiggel-Waggel patroon.

Hierdie tegniek is uitstekend vir allerlei projekte wat vra vir 'n digte drie-dimensionele voorkoms. 

Die Filetwerk: Gebruik 'n 4 draad wol en 3mm hekelpen en hekel soos volg:  

Begin met 32 kettingsteke

Ry 1: 1lb in 8e ks vanaf pen, 2ks, * slaan vlg 2ks oor en werk 1lb in vlg ks, 2ks * herh van * tot * nog    6 keer en werk 1lb in die laaste ks, draai

Ry 2:  5ks, * 1lb in vlg lb, 2ks,* herh van * tot * nog  7 keer, 1lb in 3e ks, draai.

Herhaal ry 2 nog 7 keer [Daar is 9 blokkies horisontaal en 9 vertikaal]

Dit voltooi die filetwerk. Nou kan ons begin Wiggel-Waggel bo op die filetwerk. Gebruik dubbeldraad en 4 mm hekelpen en heg draad om die stam van een van die middelste blokkie se  langbene, Ons werk van die middel na die buitekant.



Kyk na die diagram aan linkerkant. Die swart kolletjie in die middel dui aan waar die draad geheg word in die begin. Die pyltjies dui die rigting aan waarin gewerk word.

Ter illustrasie het ek al die lyne met 'n ander kleur gemerk. Ek het egter net 3 kleure gebruik vir die patroon. Die buitenste rand word gehekel nadat die Wiggel Waggel tegniek voltooi is.

Let asseblief daarop dat die buitenste rand blokkies met die rooi kolletjies oop gelos moet word sodat die randjie later daarom gehekel kan word.

Alles sal wel duideliker word soos wat jy hekel.

Indien jy regshandig is sal jy anti-kloksgewys werk en andersom indien jy linkshandig is.



Heg die draad, werk 2ks en werk dan 4lb om die stam van die 1e lb.

Beweeg om na die aansluitende stam van vlge lb en werk 5lb om die stam.

Die werk word die hele tyd gedraai sodat die stam waaroor gewerk word horisontaal lê.


Hier is die middelste blokkie voltooi. Daar is om al 4 die stamme van die langbene gewerk. Glipsteek in die 1e lb en heg af.




.

Heg die volgende kleur om 'n langbeen en werk 2ks en 4lb om dieselfde stam en om elke stam daarna word 5lb gewerk.
Werk dwars oor 'n stam, draai werk sodat die volgende stam weer in posisie lê om gewerk te word. Bly heen en weer beweeg. Eers op met die stam van langbeen,  dan dwars oor die volgende stam van 'n langbeen, dan weer  af oor die volgende stam van langbeen. So dit is: Op, dwars, af, dwars, op, dwars, af, dwars, op, dwars, af, dwars ens. ens. al die tyd in dieselfde rigting tot jy weer by die begin uitkom.





Hier kan gesien word hoe die werk vertoon aan die agterkant. Kan julle sien hoe die steke op, dwars en af  lê?




En dit is hoe die ry aan die bokant lyk.

Voltooi nou elke ry blokkies tot die einde. Om op te som. Die middelste blokkie was ry 1. Die tweede ry blokkies is ry 2 ens.



Ek het Oranje in die middelste blokkie. Dan 2 rye met die gekleurde draad en al die ander rye is met die een kleur groen gedoen.


Die agterkant na al die stamme gewerk is. Let op dat die heel laaste blokkie nie gewerk is nie. Ons gaan nou die randjie omhekel.












Heg draad in 'n hoek en werk in dies sp soos volg: [2ks, 2lb, 2ks, 3lb]; werk nou in elke spasie van 'n blokkie 2lb en in die oorblywende 3 hoeke werk [3lb, 2ks, 3lb], gs in die 1e lb en heg af.

Hierdie blokkies is so lekker pofferig en sag mens wil net heeltyd aan hulle vat!





Hoop julle gaan lekker Wiggel Waggel!










Kuiergas #2 Anneke Wiese.


Ons gesels vandag met Anneke Wiese. Sy is oorspronklik van Beaufort -Wes in die Karoo maar nou reeds 23 jaar woonagtig in die Kaap. Sy het in Januarie 2013 verhuis na Paternoster vanaf Seepunt. Anneke is al 14 jaar getroud met Tobie Wiese en het drie pragtige dogters ouderdomme 11, 12 en 'n  laatlammetjie van 3 jaar oud.  Sy erken openlik dat sy verslaaf is aan hekel en 'n vriendin het nou die dag vir haar gesê dat sou haar kinders lank genoeg langs haar stil sit sal sy hulle toehekel. Katte en tjoklits is ook op haar lysie van goed waarvan sy baie hou! :) 

Monica:  Hoe lank hekel jy al?
Anneke: Ek hekel al sedert 2003.  Ek wou oorspronklik leer hekel om mooi blommetjies onderaan my girls se broeksome vas te werk. So ek hekel al vir 10 jaar.
Monica:  Wie het jou geleer?
AnnekeNiemand wat ek ken, kon hekel nie. Toe het ek by Leserskring vir my 'n hekelboek gekoop en sommer so uit die boek geleer. Meeste van die artikels in die boek was met tou gehekel. Ek het 'n vreeslike klomp bakkies/mandjies met tou gehekel. En alles net kortbene en langbene. Niks ingewikkeld nie.  Al my vriende het daardie jaar mooi mandjies present gekry.

Toe het ek vir lank nie gehekel nie.  Ek het weer in 2010 na die laatlam se koms weer weggetrek en nog nie weer opgehou nie. 
Ek wou vreeslik graag granny squares hekel, maar kon nie eintlik patrone lees nie.  'N onderwyseres by die kinders se skool het vir my gewys hoe om 'n granny square te hekel.  Toe is dit net granny squares waar jy kyk.  Die kinders se lessenaarstoele se sitplekke word met gehekelde blokkies oorgetrek; en dis granny square handsakkies en serpe. 
Toe ontdek ek 'n paar hekelblaaie op facebook en hekelblogs op die internet. Soos julle weet is die idees eindeloos en as ek 'n lys moet maak van alles wat ek nog wil hekel en behekel, sal die lys se papier reg om die wêreld kan strek. 
Nou leer ek almal om my hoe om te hekel.  Ek het bv. in Seepunt vir my huishulp geleer hekel.  En selfs vir haar 'n bestelling gekry vir serpe vir 'n boetiek in Langebaan.  Sy het sommer gou-gou vir haar R1200 losgehekel.  Ek was baie trots op haar.

Monica:  Het jy 'n gunsteling wol of gare waarmee jy graag hekel?
Anneke: In die begin, was dit enige wol wat voorkom. Ek hou nog steeds baie daarvan om met tou te hekel. Premiere katoen is ook lekker. En deesdae is die T-shirt "wol" my gunsteling.Ek het laaswinter die idee gekry om ons huisie by die see se eetkamerstoele met groot granny squares van t-shirt lap oor te trek.  Toe kon mens nog nie die klaargeknipte balle koop nie.  Ek het self die stroke geknip.  Ure se knip en baie blase op die vingers!  En t-shirt materiaal is ook glad nie meer goedkoop nie!

Monica:  Watter items is jou gunsteling artikels om te hekel?
AnnekeOp hierdie stadium beslis die matte en mandjies wat ek met die T-shirt hekel.  Dit maak lieflike presente as jy jou vriendinne se kleurskema ken. Ek hou daarvan om dekor artikels te hekel. Dis so 'n maklike manier om 'n vertrek te versier.  Een mat en een mandjie in 'n mooi kleur en die hele vertrek lyk mooi.


Monica:  Hoeveel tyd kry jy om te hekel?
Anneke: Deur die dag nie veel nie.  Soms sneak ek vroegoggend 'n half uur in as ek weet ek gaan 'n besige dag met die kids en die huis hê.   Saans na aandete en skottelgoed is my hekeltyd.  En as ons toddler gaan slaap kry ek kans om 'n nuwe patroon of twee te leer. En naweke gaan my hekelwerk ook saam beach toe.  Dis ook vir my heerlik om in die mouter te sit en hekel wanneer ons iewers heen ry.  Hoe verder ons ry, hoe beter!  

Monica:  Hoekom dink jy is hekel nou weer so gewild?
Anneke: Vir my was dit 'n "veilige" tydverdryf toe Anya nog klein was. Ek kon saam met haar op die vloer sit terwyl sy kruip en geen gevaar van iets wat in haar oog kan steek of mors nie. Dis 'n relatiewe goedkoop stokperdjie wat mens lekker saam met jou kan ronddra. Mense hekel nou "uit die boks" so dis glad nie meer outyds nie.  Dis ook baie kalmerend en terapeuties. En die idees vir artikels wat jy kan hekel is eindeloos. Die internet is propvol idees en gratis patrone. Die internet maak dit ook maklik.  Jy kan oombliklik vir google of jou gunsteling blog of facebook hekelblad vra vir raad as jy vashaak met 'n moeilike patroon. Dis ook 'n lekker sosiale stokperdjie.  Jy kan saam met vriendinne hekel en dis ook lekker om vir ander mense en veral kinders te leer hoe om te hekel, aangesien hulle dit nie meer in die skole leer nie. Ek het al heelwat vriendinne gemaak deur die fb hekelblaaie.  As iemand op die blad hier in die omgewing is, laat weet hulle my en dan kry ons mekaar vir koffie en hekel.

Anneke se matte
Monica:  Enige gunsteling kleure waarmee jy graag hekel?
Anneke: My gunstelingkleure vir ons huisie by die see is turkoois en pienk.  Ek hou ook van wit, maar dis glad nie prakties met 'n spul kinders in die huis nie. Verder is ek mal oor bont ook!




Monica:  Is hekel slegs 'n stokperdjie of hekel jy en verkoop jou items?
Anneke: Hekel is heel eerste my stokperdjie.  Ek is totaal en al verslaaf! Ek verkoop ook items. Dis altyd lekker om 'n ekstra geldjie in te kry sodat jy net meer wolle kan koop! Hahaha! En daar is regtig nie plek in ons klein huisie vir alles wat ek hekel nie!  Daar is van my hekelwerk te koop by Mondvol Padstal. Hulle is tussen Paternoster en Vredenburg.  En ek kry ook bestellings by vriende en by die kinders se maats se Ma's. Ek het ook al verkoop by die Weskusmark in Vredenburg, maar ek kan nie elke Vrydag middag daar gaan sit en my man opsaal met ons 3 dogters nie.  Dan wil ek ook nog begin om aanlyn te verkoop.

Monica:  Is daar enige iets wat jy wil byvoeg waarin die lesers sal belangstel? Vertel ons meer.
Stoel in die Vroue Keur.
AnnekeAs jy enigsins van jou hekelwerk wil verkoop, moenie skaam wees om met jou hekelwerk te spog nie. Dra dit oral saam met jou. Die Ma's by die netbal weet al ek het meestal een of ander gehekelde toppie, trui of romp aan. En hulle kom loer altyd wat ek nou weer hekel. En ek sit altyd foto's van my hekelwerk op my facebook blad en deel dit ook af en toe met van die hekelblaaie. Ek en 'n vriendin se hekelwerk was al in die Vrouekeur in 2012. Ons was vreeslik opgewonde daaroor en het nogal navrae en 'n paar bestellings gekry na die artikel. 
My heel eerste doily mat wat ek met die t-shirt gehekel het, verskyn ook op die blog van die vrou wat die patroon geskryf het, omdat ek die foto met haar gedeel het. En sy het intussen sommer 'n paar van my ander matte ook opgesit. 
Ek leer ook sommer met bbm en emails vir my suster se dogter nuwe steke en patrone. Fantasties met vandag se tegnologie ne! Sy was so gelukkig om by haar Ouma (my Ma) te leer, want hulle bly op dieselfde dorp.
 

Ek het nog 'n hele klomp hekeldrome wat moet waar word: 
  • Ek sal graag by een van die skole in die omtrek vir die kindertjies wil leer hekel.  Dit sal seker eers kan realiseer wanneer ons kleine Anya self na 'n skooltjie toe gaan.
  • Ek wil ook nog 'n hekel en reis blog begin.
  • Ek wil ook nog 'n hekel sagteware program aanskaf.
  • En ek sal ook graag hekel lesse vir grootmense wil aanbied.
  • En eendag as ek groot is, wil ek sommer my eie wolwinkel hê!
  • Maar nou ja, als met tyd.  Ek dink die een groot ding wat mens leer as jy jou eie kinders kry is geduld.  Ma kom mos maar laaste op die lys.
Anneke se "Tools"

Monica:  Het jy 'n blog of Facebook page waar ons jou kan besoek?. 
Anneke: Ek wou baie graag hierdie jaar 'n blog begin het oor ons lewe hier in Paternoster en oor reis en my hekelwerk, maar het nog nie daarby uitgekom nie!  Op my facebook blad. "Anneke Wiese"  sit ek omtrent daagliks iets op wat ek gehekel het.  Daar is bv. 'n album vir matte wat ek gehekel het.  Ek sit ook "links" na ander mense se blogs met patrone by foto's in die albums.  Ek moet seker op 'n stadium 'n aparte blad oopmaak, want die hekelwerk verdwyn soms tussen my vakansie en koek en koffie foto's. 
Die blog met die mooi doily patroon mat is: http://www.creativejewishmom.com/2011/10/crocheted-doily-rug.html
Mondvol Padstal se facebook blad is: Mondvol Padstal & Koffiewinkel 

Mense kan my enige tyd  op my facebook blad inbox vir raad of skakels na die patrone wat ek gebruik asook vir die kontakbesonderhede van 50 Something Wolwinkel waar ek al my wol en ook die T-shirt balle koop.
Ek sit ook gereeld foto's van die nuwe kleure wat ingekom het op my Facebook blad in die album: "50 Something Wolwinkel."
Monica, baie baie dankie vir die uitnodiging.
En baie dankie vir jou fantastiese hekel blog.  Ons weet dit verg baie tyd en aandag.

Groete vanuit Paternoster
Anneke

Dit was nou heerlik om saam met Anneke te kuier. Sy borrel behoorlik oor van entoesiasme en haar liefde vir hekel kom duidelik deur. Sy is passievol oor haar werk en ek wens haar alle voorspoed en sukses toe en glo dat al haar hekeldrome in die toekoms beantwoord sal word!