Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Gratis Hekel Patroon: Slenterskoene

Hekel vir jou 'n paar Slenterskoene vir die winter en hou jou voete nie net warm nie maar ook sommer mooi getooi!

 Met die winter wat nou behoorlik hier is deel ek graag my slenterskoen patroon met julle. Hierdie skoentjies kan aangepas word om enige grootte voet te pas. Dit is geskryf vir 'n volwasse voet, maar indien jy dit kleiner wil maak gebruik 'n  dubbeldraad en 'n 4mm hekelpen.





Hier is 'n ekstra link vir diegene wat probleme ondervind met die aflaai van die patroon by Scribd.

Slenterskoene Patroon
Lekker hekel!


Tutoriaal: Hoe om 'n Ierse Roos te hekel



Ierse rose is een van daardie gehekelde blomme wat oral te sien is. Dit versier haarbande, handsakke, komberse en bly immermooi en gewild. Kom ek wys julle hoe maklik dit is om jou eie Ierse Rose te hekel.














Begin met 4 kettingsteke[ks] en glipsteek[gs] om 'n ring te vorm


Ry 1: 6 kortbene[kb] in ring, gs in 1e kb

Ry 2: 4ks, 1kb in vlg kb, *3ks, kb in vlg kb* herhaal vanaf * tot * nog 3 keer, 3ks gs in 1e 4ks sp [6 ks sp]


Ry 3: Werk in dieselfde spasie soos volg: *[2ks, 3lb, 2ks, gs terug in dieselfde sp],  gs in die vlg sp,* herh vanaf  * tot *  in elk van die  3ks spasies












Ry 4: *4ks, 1gs om die stam van die kb wat in ry 2 gemaak is deur die hekelpen van agter af vorentoe en weer na agter om die stam van die steek te druk, slaan die draad om die pen en trek dit deur aan die agterkant deur albei lusse op hekelpen * herhaal van * tot * tot einde van ry [6 4ks spasies]



Ry 5: Gs in vlg ks sp en werk  soos volg: *[2ks, 4lb, 2ks, gs terug in dieselfde sp],gs in die vlg sp,* herh vanaf * tot * in elk van die 3ks spasies, gs in heel eerste gs. Heg af  








Dit is dan die Ierse Roos!









En op 'n baie reenerige en koue dag hier in die Kaap groet ek tot volgende keer. 




Lekker hekel!
 

Tunisiese Hekelwerk en Aanwysings!

Wat is Tunisiese Hekelwerk?



'n Loper op my tafel wat bestaan uit 4 blokke. Gewerk in 
Tunisiese steek. Materiaal gebruik: 100% Suiwer wol en 
Mohair. Die randte is met 'n ry langbene omgehekel met 'n
draad wat lang haartjies het.  
Tunisiese hekelwerk het baie name soos onder andere Afgaanse Hekel, Tricot Steek, Skotse Breiwerk, Treinspoor Breiwerk en Hekelpen Breiwerk. Die Engelse name hiervoor is Afghan Stitch, Tricot Crochet, Scotch Knitting, Railroad Knitting en Hook Knitting. Die Tunisiese hekelpen is  'n kruis tussen 'n breinaald en hekelpen. Die punt is gevorm presies soos die van 'n hekelpen maar dit het 'n lang steel van ongeveer 30cm soos die van 'n breinaald. Omdat die Tunisiese hekelpen so lank is word dit ook op 'n ander manier vasgehou as 'n gewone hekelpen.  


Tunisiese hekelwerk word van regs na links gewerk wanneer steke opgetel word en dan word dit weer van links na regs afgewerk tot net een lus oorbly. Een ry word in 2 stappe gedoen wat bestaan uit 'n optel en terugwerk ry. Daar word ook begin met 'n aantal kettingsteke wat die basis vorm vir die eerste ry.  Die werk word ook nie omgedraai na die voltooing van 'n ry soos in gewone hekelwerk nie. Dit is baie terapeuties en verbasend maklik om nie eens te praat van vinnig nie. 

Hou die pen so vas.
Die meeste van ons hekel-terme en afkortings is ook van toepassing op Tunisiese hekelwerk. Verder kry jy ook die gewone hekel steke soos kortbene, halwe langbene, langbene ens wat gebruik word in die werk. Daar is egter nog baie Tunisiese steke wat deur die jare ontwikkel is.  Enige  afkortings of patroon steke word gewoonlik verduidelik in spesifieke Tunisiese patrone dus gaan ek nie elkeen hier noem nie. .    

Tunisiese hekelwerk het 'n geweefde voorkoms. Die tekstuur van die hekelwerk is dig en stewig en rek ook nie uit nie. Dit is ideaal vir komberse, gedetailleerde winter kledingstukke, kussings en vatlappies wanneer jy 'n digte weefstof benodig maar kan ook aangepas word deur 'n dun draad met 'n groot pen te gebruik vir 'n los en sagte serp wat pragtig drappeer. Dit is beslis 'n wonderlike hekelvorm wat baie onderskat word. 



Die grootte van die Tunisiese hekelpen kan  tot 5 nommers groter  wees as wat op die woletiket aangedui word.  Eksperimenteer met verskillende nommers totdat die verlangde spanning verkry word. Ek persoonlik gebruik 'n 5,5mm - 6mm Tunisiese Hekelpen wanneer ek met 'n dubbeldraad werk en 'n 4mm - 5mm wanneer ek 'n vierdraad gebruik.


Stap vir stap tutoriaal!

 Tunisiese Hekelwerk: 2 Verskillende Steke. 

Materiaal gebruik:  

Elle Charity Dubbeldraad in 2 Kleure
6mm Tunisiese Hekelpen

Hekel hierdie monsterlappie en leer  2  Tunisiese steke.


Begin deur  21 kettingsteke te maak. Dit vorm die basisry. Hekel die kettingsteke met 'n  los spanning. Te stywe kettingsteke veroorsaak dat die eerste en laaste rye se spanning verskil. 

Plek waar lussie lê 
Die monsterlappie bestaan uit 20 steke. Die 1 ekstra kettingsteek wat gemaak is word nie getel nie en word altyd getel as 'n randsteek. Draai nou die kettingsteek strook tussen die vingers om sodat die gedeelte wat 'n 'V' vorm na onder wys. Merk dat daar nou aan die  bokant  lussies is wat so effens na bo wys op elke kettingsteek. Die eerste ry word in hierdie lussies gewerk. Wanneer die steek so gewerk word veroorsaak dit dat daar 'n baie mooi effens elastisiese en netjies afgewerkte rand aan die onderkant van die werk gemaak word. 


Die Tunisiese Steek [Tst]

Basis ry:  [Die basis ry word gebruik as begin vir enige van die Tunisiese steke] 

Eerste steek van terugwerk ry
word deur slegs
1 lus gewerk aan die begin
van enige ry
  • Optel : Druk die pen deur eerste lus van voor na agter, slaan draad om pen en trek deur na bo, *druk pen deur die volgende lus, slaan draad om pen en trek deur na bo * herhaal vanaf * tot * al lusse opgetel is. Daar is 20 lusse opgetel en op die pen sal 21 lusse wees. [1 Ekstra wat die randsteek is]
  • Terugwerk: Slaan draad om pen en werk deur eerste lus, *slaan draad om pen en werk deur 2 lusse * herhaal vanaf * tot * tot einde van ry. Slegs 1 lus, die randsteek bly oor. 


Ry 1: 
 Optel en terugwerk tel as 1 ry: 
Steek deur laaste 2 lusse.
Druk onder deur hierdie
regaf lus van regs na links
  • Optel : Druk die pen onderdeur die regaf lus wat voor die werk lê , slaan draad om pen en trek deur na bo, druk die pen nou deur die volgende regaf lus, slaan draad om pen en trek deur na bo. Herhaal hierdie stappe totdat al die lusse in die ry opgetel is. Die heel laaste steek van 'n ry word deur 2 lusse gemaak wat gesien kan word op die foto regs.  Daar is 20 lusse opgetel en op die pen sal 21 lusse wees. [1 Ekstra wat die randsteek is]
  • Plek waar pen deur gedruk
    word in laaste steek.
  • Terugwerk : slaan draad om pen, werk deur slegs die eerste lus op pen, * slaan draad om pen, werk deur 2 lusse op pen,* herhaal vanaf * tot * tot al die lusse afgewerk is en slegs die randsteek oor is op pen. 

Tunisiese Steek 
 Herhaal Ry 1 en oefen die steek deur so paar ekstra rye te werk. Moenie afheg nie. Oefen nou die volgende steek. 




Tunisiese Breisteek [Tbst]

Tunisiese steek onderste rye en breisteek boonste 3 rye.


Ons gaan nie nou begin met 'n nuwe monsterblokkie nie en gaan dus nie weer die basisry werk nie. Begin die volgende ry dadelik deur die Reksteek te werk soos volg: 





Optel en terugwerk tel as 1 ry: 

Plek waar breisteek gedoen word. 


  • Optel Die lang regaf lus waardeur die Tunisiese steek wat so pas geoefen is gemaak is het ook 'n regaf lus wat aan die agterkant van die werk lê. Hou die pen effens skuins en druk nou tussen die voorste en agterste lus regdeur na die agterkant van die werk, slaan draad om pen en trek deur na voor en op. Herhaal die stappe totdat alle steke so gewerk is en wanneer jy by die heel laaste steek kom word dit weer presies gemaak soos met die vorige Tunisiese steek. 
  • Terugwerk: Word presies soos die Tunisiese steek afgewerk




Tutoriaal: Hekel 'n Driehoek Ouma Blokkie.

Kom ek wys julle hoe om hierdie maklike driehoek blokkies te hekel!

Hekel Idees: Driehoekie Blokkies.


Kleur A: Begin met 5ks, gls om 'n ring te vorm [Hier kan julle sien hoe om die ring te maak]


Ry 1:  3ks, 3lb in ring, 2ks, 4lb in ring, 2ks, 4lb in ring, 2ks, gs in bo-punt van 3ks. Heg af.



Ry 2: Heg Kleur B in enige 2ks sp. [Werk nou in dieselfde sp die eerste hoekgroep wat bestaan uit 2ks,2hlb,2ks,3hlb];  * 1ks, slaan vlg 2 lb oor en werk in vlg lb [1hlb,1ks]; in vlg sp werk ['n gewone hoekgroep wat bestaan uit 3hlb,2ks,3hlb]*; herh vanaf * tot * nog 1 keer, 1ks,slaan 2lb oor 1hlb in vlg lb, 1ks, gs in 2e ks. Heg af.



Ry 3: Heg Kleur C in 'n hoekspasie en werk 'n eerste hoekgroep, 1ks, * slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp]  herh nog 1keer; 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks,** werk nou 'n gewone hoekgroep, 1ks* herh vanaf * tot * nog 1 keer en her dan weer vanaf * tot ** en gs in 2e ks. Heg af.



Ry 4: Heg Kleur D in enige hoekspasie en werk eerste hoekgroep, 1ks, * slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp] herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gewone hoekgroep in vlg sp, 1ks, slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg 1ks sp] herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor,, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gewone hoekgroep in vlg sp, 1ks, slaan vlg 2hlb oor, 1hlb in vlg hlb, [1ks, 1hlb in vlg sp], herh nog 4 keer, 1ks, slaan 1hlb oor, 1hlb in vlg hlb, 1ks, gs in 2e ks. Heg af. 

Hekel Idees: Driehoekie Blokkie met Ierse Roos.


'n Blommetjie lyk net so mooi op hierdie driehoekies.

In die volgende tutoriaal wys ek julle hoe om hierdie Ierse Roos te hekel. 





Hoe maak mens 'n langbeen? Gaan kyk na die tutoriaal van die Ouma Blokkie. 

Hoe maak mens 'n halwe langbeen? Die halwe langbeen word amper dieselfde gedoen as 'n langbeen met net een verskil. Sodra jy 3 lusse op jou pen het slaan jy die draad om pen en trek dadelik deur al 3 lusse. Dit word dus so gemaak. Slaan draad om pen, druk hekelpen in steek of spasie, slaan draad om pen en haak wol deur die steek of spasie na bo, daar is nou 3 lusse op pen, slaan draad weer om pen en trek deur al 3 die lusse. Dit voltooi die halwe langbeen. 


Lekker hekel!


Stap vir stap: Monica se 'Snerpie'

Winter is besig  om sy lang vingertjies stadig maar seker  in te wriemel oral waar hy 'n oop gaatjie kan vind. Hier is ek met my nuwe Snerpie! 

Hou jou nek en bors warm en snoesig! 

Ek noem dit 'n snerpie omdat dit iets is tussen 'n snood en serp. Nie heeltemal 'n snood nie en ook nie heeltemal 'n serp nie.  Ek het Pure Gold se Chunky gebruik en dit is heerlik sag en warm om my nek en hou ook sommer my bors lekker warm. Nadat ek my eerste snerpie gehekel het en die patroon neergeskryf het was ek so in my noppies dat ek sommer nog een begin het! 


Ek het vir die tweede een Chunky Knitting 'Loom Easy' gebruik en Timber vir die binneste blom patroon. Tot my verbasing het die blokke  baie groter gehekel met hierdie spesifieke wol alhoewel ek dieselfde dikte hekelpen, 'n nommer 6 gebruik het. Ek is nog besig met die tweede een en sal die foto oplaai op Hekel Idees se facebook bladsy sodra dit klaar is. Dit sal natuurlik 'n groter snerpie wees omdat die blokke groter is, maar dit kan dalk tog ook lekker wees as dit effens groter om die skouers pas. [Dit word dalk nog omskep in iets heeltemal anders, want ek werk baie op ingewing van die oomblik!] 


Blokkie met Pure Gold Chunky = 13 x 13 cm
Blokkie met Chunky Knitting Loom Easy en Timber = 16 x 16cm


Ek het stap vir stap aanwysings gedoen vir die van julle wat ook so 'n snerpie wil hekel. 


Materiaal gebruik:

1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Titanium]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Silver]
1 x 100g Elle Pure Gold Chunky [Ruby Red]
6.00 mm Hekelpen

Afkortings:


beg = begin; ks = kettingsteek/e; hlb = halwe langbeen; herh = herhaal; gs = glipsteek; rdte = rondte
sp = spasie; oorbl = oorblywende; vlg = volgende; verm = vermeerder; st = steek; hoeksp = hoekspasie, gr = groep; hoekgroep = hoekgr; vlg = volgende; sdop = slaan draad om pen


Eerste Motief:

Begin met Ruby Red en werk 6ks, gs om ring te vorm.

Ry 1: [2ks, 2lb,2ks, gs in ring]; herh nog 5 keer. Heg af [6blare]

Ry 2: Heg die Silver in laaste gs en werk 3ks, * gs nou weer in die vlg gs wat tussen die vlg 2 blare gemaak is, 3ks, * herh vanaf * tot * totdat daar vyf 3ks sp gemaak is; 3ks, kb in 1e 3ks sp. Druk die blaartjies van die blom na vore sodat die 3ks sp aan die agterkant van die blaartjies lê





Ry 3: Werk in dieselfde 3ks sp soos volg: 1hlb, 3lb, 1hlb, volg aanwysings tussen hakies en werk in elk van die vlg 5 3ks spasies soos volg: [1kb, 1hlb, 3lb, 1hlb]; gs in 1e hlb. Heg af.

Ry 4: Heg Titanium in dieselfde gs, 6ks, * kb in 2e lb, 3ks, lb in vlg kb, 3ks, * herh tot einde van rdte en gs in 3e ks

Ry 5: gs in 3ks sp, 6ks, kb in vlg sp, * 5ks, kb in vlg sp, * herh vanaf * tot * tot einde van ry en gs in 1e ks [daar moet 12 ks spasies wees]





Ry 6: gs in vlg sp, werk nou in dieselfde sp die vlg: [3ks, 2lb, 2ks, 3lb]; * 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks; in vlg sp werk nou 'n hoekgr soos volg: [3lb, 2ks, 3lb] *; herhaal vanaf * tot * einde van ry




 Tweede, Derde en Vierde Motief:

Volg instruksies van eerste motief vanaf Ry 1 tot Ry 5


Ry 6: gs in vlg sp, werk in dieselfde sp soos volg: 3ks, 2lb, 1ks, gs in ooreenstemmende hoek van eerste motief, 1ks, werk nou 3lb terug in hoekspasie van tweede motief, *1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, kb terug in vlg sp van tweede motief, * herhaal van * tot * nog 1 keer, 1ks, kb in vlg sp van eerste motief, 1ks, 3lb in vlg hoekspasie van tweede motief, 1ks, gs in hoeksp van eerste motief, 1ks, 3lb in hoeksp van tweede motief, ** 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, hoekgr in vlg sp, ** herh vanaf ** tot ** nog 1 keer, 2ks, kb in vlg sp, 3ks, kb in vlg sp, 2ks, gs in bo-punt van 3e ks. Heg af.

Hoe om 2lb saam te werk:

Sdop en druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, druk deur vlg lb, sdop en trek deur steek, sdop en werk deur 2 lusse, sdop, werk deur oorblywende 3 lusse. Dit voltooi die saam afgewerkte 2lb.

Onderste Rand:

Heg draad tussen die sp van enige twee motiewe, 5ks, * kb in 2e lb van 'n hoekgroep, [3ks, kb in vlg sp] herhaal nog 3 keer, 3ks, kb in sp tussen vlg twee motiewe, 3ks, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte en gs in 2e ks.
Boonste Rand:

Verminder na die nek toe soos volg:

Ry 1: Heg draad tussen sp van enige twee motiewe; 3ks, 2lb in vlg sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in elk van vlg 3sp, 1lb in elk van vlg 3lb, 2lb in vlg sp, 1lb in sp tussen vlg 2 motiewe. Herhaal op hierdie wyse tot einde van rondte en gs in 3e ks

Ry 2: 3ks, 1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, *1lb in vlg lb, werk vlg 2lb saam, * herh vanaf * tot * tot einde van rondte, gs in 3e ks

Ry 3: Herhaal ry 2

Opmaak van Snerpie

Werk nou 2 rye hlb en heg af.

Gebruik 'n wolnaald en weef alle los drade weg.  Plaas om nek en hals en verlustig jou in die warmte! Lekker! :)






Lekker hekel en warm bly!







   

Hekel 'n 'funky' koffiebeker jassie!


©Monica Buys

 
Ons hekel 'n 'funky' kleurvolle koffiebeker jassie vandag. Nuut vars en oorspronklik. Daar is baie koffiebeker jassie patrone beskikbaar maar ek wou iets ontwerp wat anders is as die gewone en het toe hierdie ontwerp uitgedink  en ek hoop julle sal net so baie daarvan hou om dit te maak as wat dit vir my was om dit  saam te stel. 

Dit het meet en pas gekos om die ontwerp te laat werk maar ek dink my patroon is aanpasbaar genoeg om te gebruik vir enige grootte koffiebeker. 

 Ek hoop julle hou daarvan!

Ons gaan begin met die bodem.

Ek het Vinnis Colours Nikkim gebruik wat 100% katoen is en 'n 4mm hekelpen maar enige dubbeldraad sal werk.

Die bodem.


Die bodem word begin deur 'n sirkel te hekel wat plat moet wees aan die onderkant en dan knus om die beker vou.


So word die sirkel gehekel:

Begin met 4ks, gs om 'n ring te vorm. 

Ry 1: 1ks, 8hlb in ring,   gs in 1e hlb; [plaas nou 'n merker in hierdie laaste steek]


Oor die merker en die manier wat ek my merker plaas in elke rondte: 

Diegene van julle wat alreeds sirkels gehekel het sal weet dat daar gedurig 'n onooglike lasmerk wys waar daar elke keer in 'n rondte 'n glipsteek gemaak word en jy begin die nuwe ry met 2ks.  Wel, ek probeer maar altyd om die tegnieke van hekel te verbeter en die manier wat ek dit doen   is om die glipsteek te merk, slegs 1ks te maak en dan die glipsteek te ignoreer aan die einde van die rondte. Deur in die eerste volgende st te gs verbloem dit die lasplek waar die volgende ry begin is. 





Ry 2:  1ks,  werk nou 2hlb in dieselfde st en daarna ook 2hlb in elke hlb tot einde van ry. [altesaam 16hlb wat gewerk word]; haal merker uit en slaan die gs oor, gs nou in die 1e hlb en plaas die merker terug in die gs sodat jy presies weet watter steek dit is wat jy moet oorslaan.

Ry 3: 1ks, 2hlb in dieselfde st, 2hlb in elke hlb tot einde van ry [32hlb], verwyder merker, slaan gs oor, gs in 1 ehlb, plaas merker terug

Ry 4: 1ks, 2hlb in dieselfde st, * 1 hlb in elk van vlg 3hlb, 2hlb in vlg hlb, * herh vanaf * tot * tot einde van ry [dit beteken jy gaan in die vlg 3hlb net 1hlb werk maar na elke 3e hlb gaan jy in die 4e een 2hlb werk]; eindig deur weer die merker te verwyder, slaan gs oor, gs in 1e hlb

My beker se bodem het net 3 rye nodig gehad. Indien jou bodem nog groter is as ry 4  kan jy nog 'n ry of 2 ekstra hekel deur ry 4 te herhaal maar vermeerder met elke ry net die aantal steke wat tussen die vermeerderings lê. Dit beteken ry 5 sal lees 1hlb in elk van vlg 4hlb, 2hlb in vlg hlb en ry 6 sal lees 1hlb in elk van vlg 5hlb, 2hlb in vlg hlb. Verder doen jy alles presies dieselfde totdat die  sirkel dieselfde grootte is as  van die  onderkant van die beker.

Nou gaan ons ophou vermeerder sodat die jassie kan begin vou om die beker. So doen ons dit:

Vlg ry en elke ry hierna totdat hierdie  deel van die jassie voltooi is: 1ks, 1hlb in dieselfde st, 1 hlb in elke hlb tot einde van ry, gs in 1e kb..

Die merker word altyd op dieselfde manier verskuif soos voorheen wat beteken dat jou aantal steke vanaf hierdie ry dieselfde bly. Ek het gehekel tot by ry 3 en het dus 32hlb wat ek nou gaan herhaal totdat ek die verlange lengte bereik het.

Hekel totdat dit die onderste deel van die koffiebeker se oor bereik, heg af  en werk dan die rand soos volg:

Randjie:

Heg die volgende kleur in enige hlb, *  2ks, 2lb [langbene] in dieselfde st, slaan vlg 2hlb oor en gs in vlg hlb,* herhaal vanaf * tot * tot einde van rondte en gs terug waar begin is. Heg af.






Boonste deel van jassie:

Begin met 5ks, 1hlb in 3e ks vanaf pen, werk nog 2hlb, 2ks, draai

Vlg ry: 1hlb in 1e hlb, 1hlb in elk van vlg 2hlb,  2ks draai

Herhaal hierdie laaste ry totdat die bandjie lank genoeg sodat dit rondom die beker kan pas vanaf die oor se een kant tot by die ander kant van die oor. Maak 4ks, vou die bandjie in die rondte sodat dit 'n sirkel vorm en  gs nou in die teenoorstaande hoek van die begin van die bandjie, 1ks en werk nou 'n ry kb om hierdie boonste rand en wanneer jy by die 4ks kom werk 4kb bo oor en gs in die 1e kb. Heg af.

Heg vlg kleur aan die onderste rand en herhaal dieselfde randjie wat gebruik is vir die onderste deel maar in plaas van om in hlb te werk moet daar nou in die sykante van rye gewerk word. Sorg net dat die steke eweredig uitmekaar lê. Heg af.


Blommetjies:  Gebruik 'n 4 draad vir die blommetjie met 'n 3.25mm hekelpen. Vir hierdie tutoriaal is  Elle Premier 4 ply katoen in 3 verskillende kleure gebruik.


Begin met 6ks, gs om ring te vorm



Werk in ring soos volg: kb in ring, * 1ks, 2lb, 1ks, kb terug in ring, * herh vanaf * tot * nog 5 keer, gs in 1e kb. Heg af.



Werk nou alle los drade weg met 'n wolnaald.

Gebruik silwer ringetjies en haak die blommetjies vas aan hekelwerk soos op die fotos geillustreer word.





Hekel ook 'n kettingsteek band van sowat 100ks en ryg dit deur aan die boonste deel sodat dit stewig vasgetrek kan word om beker met 'n strikkie wat bokant die oor sit.
©Monica Buys

Jou beker se jassie is kant en klaar! 

Geniet dit :)
Groete en lekker hekel!