Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Idees


Hartjie op vierkantige blokkie. 

Gebruik twee kleure katoen of wol en hekel hierdie skaakmat blokkie deur kortbene in rye te hekel en die kleure om te ruil na elke 5e ry. Hierdie blokkie het 20kb en is gedoen in veelvoude van 5 steke. Hekel totdat 20 rye voltooi is en hekel dan 'n randjie van kb rondom. Knip 'n hartjie uit felt en werk met oorhandse steek daarop vas. Baie maklik en effektief. Ideaal vir 'n baba kombersie. Die felt motiewe kan ook afgewissel word met felt blomme of enige ander motief. Gee jou verbeelding vrye teuels! 

 



Kringe in die blom!



Hekel hierdie blom deur 'n sirkel te hekel met 'n dekoratiewe randjie en gebruik glipsteke om die dekoratiewe kringetjies te maak. 

Hierdie blomme is maklik om te maak en kan in 'n verskeidenheid projekte gebruik word. 







Plekmatjies vir bekers of glase.


Nog 'n maklike en vinnige idee. Gebruik katoendraad of dubbeldraad wol en hekel hierdie plekmatjies in 'n japtrap. Houtkrale word in die heel laaste ry ingehekel.





Lekker hekel en wonderlike dag vir julle!

Tutoriaal: Leer hoe om 'n 'Granny Square' te hekel.

Stap vir stap aanwysing! Leer hoe om 'n Ouma Blokkie of Granny Square soos meer algemeen bekend staan, te hekel.


 
  
Hierdie tutoriaal is spesiaal vir almal wat wil leer hekel en die Granny Square of Ouma Blokkie is ideaal vir die beginner. Volg die aanwysings en leer stap vir stap hoe om te werk te gaan. 

Stap 1.

Hierdie heel eerste steek op jou hekelpen is 'n glipknoop en word nie getel as die eerste steek nie maar is slegs 'n beginpunt.

Volg stappe 1,2 en 3 soos die instruksies op die illustrasies aan die linkerkant demonstreer.


Stap 2.

Die gare of wol is nou gereed op die pen en die eerste kettingsteek[ks]kan gemaak word deur die draad  om die pen te slaan en deur die beginknoop te trek.

Maak nou nog 4 kettingsteke.Dit gee jou 5 voltooide kettingsteke.

Let op dat die hekelpen se hakie na onder wys wanneer die draad deurgetrek word. Die spanning is reg indien jy die hekelpen maklik kan deurtrek. 

Onthou hekel is onstpannend so moenie styf werk nie en ontspan jou hande. Sit gerieflik en geniet dit. Indien jy sukkel in die begin onthou ons het almal eens op 'n tyd ook gesukkel. 

Stap 3. 
Glipsteek [gs] in die heel eerste ks om sodoende 'n ring te vorm. Wanneer jy 'n glipsteek maak steek jy die pen in die steek, slaan die draad om die pen en trek die draad deur die steek sodat daar net een lus op jou pen oorbly.



Ons wil 'n glipsteek maak in die heel eerste kettingsteek en moet die pen dus insteek reg waar ons begin het. Kyk na die fotos links om te sien presies waar hierdie glipsteek gemaak word.












Dus: Steek die pen in die eerste kettingsteek, slaan die draad om pen en trek deur albei lusse op pen. Die ring is nou gereed en daar kan begin word met die heel eerste ry.



Ry 1. Die eerste ry se steke word almal binne in die ring gemaak.Vroetel met jou duim en voor-vinger in die ring om seker te maak jy weet presies waar die binnekant van die ring is. 



Die foto aan die regterkant demonstreer hoe 'n langbeen [lb] gemaak word.

Die stappe binne die ring is:

Slaan die draad om pen, steek in die spasie, haak die wol en trek dit deur die ring op na bo.Daar is 3 lusse op die pen. Slaan draad weer om pen en trek deur  2 lusse, slaan draad om pen en trek deur albei lusse. Daar is nou 1 lus op pen. Dit voltooi die eerste langbeen.

Goed noudat jy weet hoe 'n langbeen gemaak word volg die instruksies.





Begin met 3ks,2lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks en glipsteek in die 3e ks waar jy begin het. Dit voltooi die ry. 

Daar is altesaam 12 bene wat getel kan word. Die eerste 3 ks dien as plaasvervanger vir die 1e lb en word altyd gemaak wanneer jy met 'n nuwe ry begin wat bestaan uit langbene. Dit lyk net soos 'n langbeen wanneer jy daarna kyk en dit is 'n manier om ook hoogte te gee vir die volgende lb wat gemaak moet word. Hierdie 3 ks word net 1 keer gemaak en altyd aan die begin van die ry. Knip die draad en werk die los drade weg deur 'n wol naald te gebruik en tussen die steke deur te weef soos op die foto aan die regterkant gewys word.
 
Ry 2.

Heg nou die wol in enige hoekspasie deur die wol om die pen te slaan en deur die spasie te trek.

Maak een kettingsteek en maak 'n knoop aan die agterkant deur die kort draad te knoop met die werkende draad soos die foto links onder illustreer.




Nou is jy gereed om met ry 2 te begin.

Maak nog 2 ks en onthou hierdie eerste 3 ks is die plaasvervanger vir die eerste langbeen.






Jy gaan nou die eerste hoekspasie werk. Maak 2lb, 2ks, 3lb in dieselfde spasie. [foto links]








Maak nou 2ks en werk nou in die volgende hoekspasie weer [3lb, 2ks, 3lb] [foto links]








Herhaal hierdie stappe totdat al 4 hoekspasie gewerk is.

Maak weer 2ks en glipsteek in die boonste deel van die 3ks. [foto links dui aan waar die glipsteek gemaak word]
Die foto links wys hoe die blokkie nou lyk nadat die glipsteek gedoen is.

Sny die draad en trek deur die lus. Weef draad weg.





Ry 3:

Heg volgende kleur weer soos voorheen verduidelik en werk hoekspasie. Onthou 'n hoekspasie bestaan uit twee groepies wat bestaan uit [3lb,2ks,3lb], maar die heel eerste hoekspasie van enige ry bestaan altyd uit [3ks,2lb,2ks,3lb]

Elke spasie tussen die hoekie bestaan uit slegs 3 lb en tussen in altyd 2ks om die groepie van 3lb te skei en 'n spasie te maak.

Ry 3 lees dus as volg:

Heg kleur en werk eerste hoekgroep,[2ks, 3lb in vlg sp,2ks, hoekgroep] Herhaal tot al 4 hoeke gewerk is. Eindig weer deur 'n glipsteek te maak in die boonste punt van 3ks soos vorige ry.

Hierdie is die basiese patroon vir die blokkie. Jy kan dit so groot maak soos jy wil. Onthou net met elke ry gaan daar meer spasies tussen die hoeke wees. Elke spasie tussen die hoeke bestaan uit slegs 3 langbene. Na elke 3 langbene is daar altyd 2 kettingsteke om spasie te maak vir die volgende ry.

Hoop die tutoriaal is duidelik genoeg sodat julle sommer dadelik kan begin met julle blokkies.

Lekker hekel!

Gratis Patroon: Wawiel Ouma Blokkie


Dit is weer tyd dat ek my lesers bederf met 'n gratis hekelpatroon.

Hierdie is my nuutste ontwerp en dit is  splinternuut en oorspronklik. Ek deel dit graag met almal.

Gebruik die blokkie in 'n kombers of kussing of selfs 'n handsak. Ek hoop julle geniet dit net soveel as wat ek dit geniet het om dit te ontwerp.


Lekker hekel! :)

Onthou net asseblief dat hierdie patroon gratis is maar dat ek steeds die kopiereg daarop het. Gebruik dit dus na hartelus maar respekteer die kopiereg. Baie dankie.





Hekel 'n Hartjie

 Gehekelde Hartvorm.



Benodighede: 

  • Prestia Jollycast of Gips
  • Hartvormige gietvorm
  • Water
Bo-kant
Onderkant






Meng bietjie water met Jollycast of Gips tot vloeibaar. Die mengsel moet  loperig genoeg wees sodat dit maklik kan giet. As ek dit in makliker terme kan uitspel: soos pannekoek beslag! Laat eenkant tot behoorlik geset.

Nou kan jy jou hekelpen en wolletjies naderskraap en 'n oortrekseltjie hekel. Ek het begin met 'n sirkel en sommer so met meet en pas vermeerder volgens die hart se vorm. 

Hekel twee kante, plaas hartjie tussen jou motiewe en werk aanmekaar vas. 

'n Vinnige dekoratiewe artikel om te maak. Dit kan ook baie nuttig wees vir 'n deurstop of bo op 'n lessenaar vir al die papiere wat wil wegwaai. 


Op so 'n koue en winderige Kaapse dag dan tot later almal!





Warm bly en lekker hekel!





Hoe om 'n Blommetjie met 12 Blaartjies te hekel.

 
 

Begin met 'n garesirkel. Kom ek wys gou vir die van julle wat nie weet wat 'n garesirkel is nie hoe om te werk te gaan.

Maak jou eerste begin-stekie op jou pen deur 'n glipknoop te maak en die hekelpen daardeur te steek.  Maak nou 'n sirkel met die kortste deel van die draad. Dit vorm die ring of sirkel waarin die eerste ry gewerk word. 

 

Ry 1: 12kb in die sirkel; neem nou die kort draad en trek. Die sirkel trek na mekaar toe sodat al die kb netjies bymekaar kom, ss in 1e kb. Sukkel jy met die sirkel? Begin dan met 5ks, ss om ring te vorm en werk 12 kb in ring.



Ry 2: 1kb in die vlg kb, *2ks, slaan een kb oor, 1kb in vlg kb, herhaal vanaf * tot einde van die ry, ss in die eerste kb (daar moet ses 2ks spasies wees)

Ry 3: *gs binne in vlg 2ks sp; werk nou soos volg in spasie: (2ks,3lb,2ks,ss in dieselfde sp)* herhaal van * tot * in die oorblywende 5 spasies 





Ry 4: (3ks,1kb in kb wat oorgeslaan is van ry 2(dit is in blou gedruk sodat julle presies weet van watter steek gepraat word); 3ks, maak nou 'n kb om die been van die kb in ry 2. (Steek die hekelpen van agter na voor en om die kb van ry 2 en weer na agter soos op die volgende twee fotos geillustreer word; herhaal die stappe tot aan die einde van ry; (twaalf 3ks spasies)



 


Ry 5: Werk nou in elk van die 12 spasies soos volg: *gs binne in vlg 3ks sp; (2ks,3lb,2ks,ss in dieselfde sp)* herhaal van * tot * in die oorblywende 3ks spasies tot einde van ry, ss en heg af.



Ta da! 'n Dubbelblaar Blom! 


 Hoop julle hekel ruikers vol blomme! 
Mooi dag vir almal

*Regstelling: Vingerfout het ingesluip. Let asseblief daarop dat ss moet lees gs = glipsteek.* 

Hoe om hekelblokkies aanmekaar te werk.

Dit gebeur met almal van ons. Ons leer hoe om te hekel en begin ywerig om die een blokkie na die ander te hekel. Kort voor lank is daar 'n hopie blokkies en dan skielik besef jy dat jy nie 'n idee het hoe om hulle bymekaar te kry nie. Wonder jy ook hoe om al jou blokkies aan mekaar vas te werk? Jy hoef nie verder te wonder nie want dit is eintlik vreeslik maklik.

Daar is verskeie maniere om te werk te gaan. Jy kan die blokkies met rugkante teen mekaar sit en dan 'n ry kortbeentjies deur albei blokkies werk. Met ander woorde doen een kortbeentjie wat deur albei blokkies se ooreenstemmende steke gelyk gedoen word. Hierdie manier veroorsaak dat 'n riffie geskep word en dit kan mooi en dekoratief lyk maar daar is tye wanneer jy die las so onopsigtelik as moontlik wil hou.  En dit is wat ek vandag vir julle wil wys. 

Onsigbare aanmekaar werk van gehekelde blokkies

Plaas die blokkies plat langs mekaar.

Gebruik altyd 'n stomp naald vir die vaswerk van hekelwerk. Dit is noodsaaklik want 'n skerp naald kan die gare of wol split en baie onnet vertoon. 

Ryg die draad deur die naald en begin werk deur onder deur die boonste twee lusse van die blokkie aan die linkerkant te steek.





Voltooi die steek en beweeg dan met die naald oor na die blokkie aan die regter kant.






In die foto links kan duidelik gesien word hoe die naald van bo af deur die boonste twee lusse gesteek word.

Herhaal deur die bogenoemde stappe te volg.

Wees versigtig om nie die gare of wol te styf te trek nie, maar wel stewig genoeg dat dit nie gesien kan word nie.
Rugkant
Voorkant 














Die eindresultaat: 'n Netjies las wat moeilik is om raak te sien!

Daar is natuurlik nog vele ander maniere maar hierdie bly vir my die beste manier. Nou kan jy aan die werk spring en ook jou blokkies aanmekaar begin vaswerk. 

Lekker hekel almal en sterkte met die vaswerkery. Dit is 'n tydsame proses maar dink net hoe trots jy gaan wees om jou handewerk te wys.

Lekker hekel en mooi bly almal!