Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Lekker 'Chunky' Hoedjie.

Lekker vinnige gehekelde hoedjie!




Ek het hierdie week gou-gou hierdie lekker 'chunky' hoedjie aanmekaar geslaan gedurende my etensuur by die werk. Ek het so gedeelte van 'n bolletjie Elle Pure Gold Chunky wol ontdek en maar gehoop dit sou genoeg wees vir 'n hoedjie. Ek het wol kort gekom en kon nie weer van dieselfde 'lot' kry nie en daar was een enorme kleur verskil wat my toe die idee gegee het om dan maar 'n blom te hekel wat albei die 'lotte' insluit en nou lyk dit darem nie te sleg nie. Ek sal een of ander tyd moet gaan sit en die patroon neerskryf  want ek is nogal tevrede met die uitkoms. Ek het sommer so op intuisie gehekel en elke ry maar beplan soos dit kom. Dit sal my kos en hekel nog een sodat ek kan sien wat ek gedoen het. :)
Dit is gelukkig net die laaste twee rondtes wat 'n ander kleur skakering is en as ek die hoedjie se randjie omvou lyk dit asof dit so moet wees. Die blom is los so ek kan besluit of ek die blom wil dra of nie.
Lekker hekel en groete!

Granny Square en Seshoeke.

Die afgelope week was vriesend koud en ek het myself in die aande besig gehou met 'n hekelwerkie op die skoot.

 

 Ek het onder andere vir myself 'n lekker warm hoedjie gehekel deur 10 "ouma blokkies" [Granny Squares] aanmekaar vas te werk. Die boonste deel bestaan uit 'n ronde motief wat ek gehekel het. Ek het die twee gedeeltes aanmekaar gehekel met slipsteke. Die hoedjie lyk baie oulik met sy omgevoude rand onder en is ook heerlik warm! 






My Seshoekige Motief



Ek is ook besig om hierdie kombersie te hekel wat bestaan uit 'n seshoekige ontwerp. .



Ek hou daarvan om altyd so paar ekstra motiewe te hekel tot by die voorlaaste rondte. Wanneer ek die laaste rondte doen heg ek dit met 'n slipstekie in die ooreenstemmende motief van die kombersie en sodoende groei my kombersie en die beste van alles is ek het geen los drade wat vir my loer nie want ek doen die weg werk van die drade soos ek my motiewe hekel. 







Tot volgende keer dan.....
Lekker hekel!

Kom wat wou .. Knook sal ek Knook!

Daar is 'n nuwe tegniek wat almal aan die Knook het. Vir die van julle wat nog nooit van so iets gehoor het nie en dink ek is besig om van my trollie af te spring wil ek sommer gou-gou reg help met meer informasie oor wat se ding Knook is.  

Dit is 'n brei of is dit dalk 'n hekel tegniek? Gats! kom ons sê sommer jy bevredig albei die behoeftes van brei en hekel want jy doen die twee sommer so saam saam. Dit is 'amazing' en die resultaat lyk amper nes brei werk behalwe jy gebruik net een pen. Die pen lyk aan die een kant soos 'n hekelpen en die ander kant soos 'n breipen. 

Wel, toe ek lees van die nuwe tegniek toe is ek behoorlik nuuskierig en bekyk toe so paar youtube videos om te sien hoe mens met die nuwe toorpennetjie werk. En siende dat ek hier onder in Suid Afrika nie so iets kan koop iewers nie besluit ek toe om my eie een te maak want sien, as ek mos iets wil doen dan wil ek nie wag tot eendag nie. Ek wil dit nou doen!

Ek gryp toe my sakkie met al my hekelpenne in en bekyk hulle van nader en sien toe dat party van hulle plastiek is. Tada! 'n Liggie gaan aan in my kop! Ek kry toe 'n kers en steek die aan, kry my tang en druk 'n lekker skerp dik naald in sy bekkie vas en staan met die oor die kers se vlam. Dit het so paar probeerslae gekos maar ek het 'n gat dwarsdeur een van my hekelpenne gekry en opgewonde het ek satynkoord deur die gat geryg en toe begin ek KNOOK! Wow! 

Ek was so opgewonde oor die effek ek moet dit net eenvoudig deel met julle. 

My pen het nou wel nie 'n skerp punt soos 'n breinaald aan die een kant nie en my gaatjie is maar heel onafgerond en skeef maar dit werk nog steeds heel goed. 

Ek kan nie wag om 'n regte Knook pen aan te skaf nie. 


Die produk is deur Leisure Arts uitgevind en hopelik sal dit binnekort ook hier in Suid Afrika beskikbaar wees. Ek kan nie wag nie! 

Daar is 'n beginner stel, 'n meer uitgebreide stel en tot ook videos vir regs en linkshandige mense.

Dit is ysig koud so bly warm julle!
Groete

Hekel - Die Begin

Niks is meer bevredigend as om iets met jou eie hande te skep nie.

Daar is al hoe meer vroue wat die waarde van skeppende handwerk besef. 


Hekel is een van die handwerke wat bo aan die lys is van 'n handwerk wat nie net mooi is nie maar ook terapeuties vir oud en jonk. Die manne is ook vinnig besig om vaardighede soos brei en hekelwerk aan te leer en dit is nie meer iets wat net vroue doen nie. 

Van die fynste kant tot chunky en funky kussings, komberse, teemusse en ornamente - sjoe te veel om op te noem! Jy kan enige iets doen met hekel! 

Hekel het soveel voordele.

    • Jy het net 'n hekelpen en wol nodig.
    • Jy kan dit saam met jou neem waar jy ookal gaan.
    • Jy kan sit en gesels terwyl jy aan 'n ou 'Granny Square' kombersie hekel.
    • Jy kan jou huis versier met die warmte wat hekelwerk bring en dit verander in 'n knus plekkie waar jy tuis voel.
    • Jy kan die mooiste geskenke maak vir jou vriendinne wat uit die hart kom.
    • Dit is iets wat jy saam met ander kan doen in 'n groep.
    • Dit bring heimwee uit die verlede en vul jou dae met sonskyn ure van sommer net lekker voor die TV sit en kuier met 'n hekelwerkie op die skoot.
    • Dit kos nie 'n fortuin nie.
     Hekelwerk bring die mens in jou na vore. Nes jou eie unieke persoonlikheid wat eie is aan jou is jou hekelwerk ook eie aan jou. Dit dra jou eie unieke stempel van oorspronklikheid en vertel ook sommer baie van jou. Mens sien dit in die spesifieke patrone wat jy kies om te maak. 'n Deel van jou persoonlikheid wys in die kleurkombinasies wat jy kies. Is jy aards kies jy neutrale skakerings van rome, gryse en bruine. Is jy outgoing en 'n ekstrovert of sommer net 'n funky mens dan sal jy gaan vir uitdagende kleure soos pers met rooi en pienk of dalk die meer besadigde en sagte mens wat hou van pastel kleure. Hou jy van growwe teksture of fyn detail? Wat ookal jou smaak is een ding is verseker - Hekel kan dit alles vir jou doen!

    Nou ja dan is dit vir eers al wat ek wil sê. Ek beoog om sommer baie patrone, raad en so aan uit te deel in die toekoms. Verder wil ek gesels oor my hekel projekte en enige hekel nuus wat 'cool' is met julle deel. 

    Aan almal wat ook van hekel hou soos ek wil ek net sê: 'Geniet die plesier en kreatiwiteit wat hekelwerk gee en lekker hekel julle!' Ek hoop julle sal kom inloer van tyd tot tyd!

    Groete